Mei 2022

NWU se navorsing plaas kundigheid in die kollig

Welkom by die derde uitgawe van die Noordwes-Universiteit se nuusbrief, Navorsing@NWU.

immagine1

Prof Kenny Mnisi

NNS-gradering vir die jongste medeprofessor in dierewetenskap

Boerdery is in prof Kenny Mnisi se bloed, en sy lewenslange passie vir dierewetenskappe dra uiteindelik vrug. Prof Mnisi, wat by die Skool vir Landbouwetenskappe op die NWU se Mahikengkampus werk, het 'n Y2-gradering ontvang van die Nasionale Navorsingstigting (NNS), wat bekend is vir hulle streng en robuuste graderingsproses.

"Om 'n Y2-gradering te ontvang, is net die eerste sport van die leer, en ek glo dat met die regte hulpbronne, geriewe en ondersteuningsbasis, ek eendag saam met ander kundiges in dierewetenskap aan die bopunt van die piramide sal sit.

"Dit is tans eers bemoedigend dat my pogings, opofferings, harde werk en lang ure in die dierewetenskaplaboratoriums stadigaan erkenning ontvang en beloon word," sê 'n verheugde prof Mnisi.

Sy pogings word beslis raakgesien, aangesien die meeste van sy beoordelaars oortuig is dat hy die potensiaal het om homself in die toekoms as 'n navorser te vestig.

Een van die beoordelaars het die volgende te sê gehad: "Prof Mnisi se navorsingsonderwerp is belangrik vir die versekering van volhoubare diereproduksie. Hy is nog vroeg in sy loopbaan as ondersoeker, en in daardie konteks het hy al ietwat van 'n gevorderde loopbaan – hy is reeds die mentor van doktorale kandidate en die mederedakteur van 'n vaktydskrif."

Nog 'n beoordelaar het gesê: "Prof Mnisi se navorsingsuitsette toon oorspronklikheid en verdienste, en sal jare lank relevant bly in die vakgebied van pluimveevoeding. Hy het 'n goeie profiel as nasionale medewerker. Hy moet bloot sy verbintenis met streeks- en internasionale medewerkers/vakkundiges uitbrei. Sy perspektief oor toekomstige navorsing weerspieël sy geesdrif om 'n gevestigde wetenskaplike op sy gekose gebied te word. Prof Mnisi het in sy kort termyn van ses jaar in die akademie besonder goed as navorser gevaar."

Oplossings vir produsente met min hulpbronne

Sy navorsing fokus op die verskaffing van voedingsoplossings vir die landboubedryf, veral vir produsente met min hulpbronne wat met hoë voerkoste sukkel. "Die gebruik van plante wat voedsaam is en medisinale eienskappe het wat plaaslik beskikbaar en maklik verkrygbaar is en natuurlik groei, kan 'n langtermynstrategie wees om ekovriendelike, volhoubare en winsgewende landbou-ondernemings vir dieretelers te bevorder."

Die jong professor is vol lof vir die NWU. "Ek is uiters dankbaar teenoor die dekaan, prof Helen Drummond, die skooldirekteur, dr Lebo Motsei, asook die vakleier, prof Kwena Mokoboki, vir die ondersteuning wat hulle deur die jare aan my en my studente gegee het. Ek is baie dank verskuldig aan die NWU dat hulle vir my 'n tuiste weg van die huis geskep het en die geleentheid gegee het om my drome na te jaag."

"Ek kan nie wag vir 'n verdere gradering om as gevestigde navorser beskou te word nie," sluit prof Mnisi af. Hy sou baie graag wou hê dat sy oorlede ouma en broer nog hier moet wees om te sien wat hy bereik het.

Jongste in sy veld aan die NWU

Prof Mnisi, wat nog nie eers 30 jaar oud is nie, is die jongste medeprofessor in diere-wetenskap aan die NWU.

Sy primêre navorsing fokus op die evaluering van die gebruik van niekonvensionele voerbestanddele en fitogeniese plantprodukte om doeltreffende en volhoubare diereproduksie-stelsels te lewer terwyl hoë welstandstandaarde behou word.

Prof Mnisi het tot op hede meer as 40 navorsingstukke van 'n hoë gehalte gelewer, wat amper twee keer so veel is as wat hy teen die tyd van sy gradering ingedien het. Hy dien ook as mederedakteur van die South African Journal of Animal Science.

Hy was die suksesvolle studieleier van meer as 20 BScHons-studente en 13 nagraadse studente, van wie agt hulle meestersgraadstudies met lof geslaag het.

Hy is tans die studieleier van sewe PhD- en ses MSc-studente in dierewetenskap, en tree as gasheer op vir interns van die Departement van Wetenskap en Innovasie - Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (DWI-RGN) se internskapprogram.

Hy voltooi tans 'n nagraadse diploma in hoër onderwys aan die Universiteit van Johannesburg met die doel om sy onderrig- en assesserings-pedagogieë uit te brei.

 TERUG:
Stemme van inheemse gemeenskappe
van praktyk moet gehoor word
 VOLGENDE:
Waarom vroeë sifting vir bloeddruk
by kinders noodsaaklik is
facebook
twitter
youtube
More research news

Deel asseblief jou kommentaar en insette deur 'n e-pos aan die nuusbriefredakteur, willie.duplessis@nwu.ac.za te stuur.