Mei 2022

NWU se navorsing plaas kundigheid in die kollig

Welkom by die derde uitgawe van die Noordwes-Universiteit se nuusbrief, Navorsing@NWU.

Studie bevind dat ongeteerde strate lugbesoedeling bevorder

immagine1

Ncobile Nkosi

Die brand van fossielbrandstowwe en industriële vrystellings is van die vernaamste bronne van lugbesoedeling in Suid-Afrika. Daar is egter ander bronne wat in woongebiede aangetref word, byvoorbeeld ongeteerde strate, waarvan daar baie in lae-inkomstewoongebiede in Suid-Afrika is.

Lugbesoedeling is een van die vernaamste omgewingsprobleme wat 'n negatiewe impak op menslike gesondheid en die algemene omgewing het.

Suid-Afrika se townships is bekend daarvoor dat hulle luggehalte swak is, en dat dit dikwels die land se luggehaltestandaarde oortree. Een van die redes hiervoor is die stowwerige, ongeteerde strate in baie van hierdie gebiede.

Dit is volgens 'n onlangse studie wat uitgevoer is deur Ncobile Nkosi, 'n NWU-akademikus in die vakgroep Geografie, wat bevind het dat ongeteerde strate lugbesoedeling vererger.

Ncobile het gemeet hoeveel stof – dus lugbesoedeling – die gevolg is van motors wat op geteerde en op ongeteerde strate ry.

Ongelykheid ten opsigte van luggehalte

Partikelstofvrystellings vanaf voertuie op strate in Suid-Afrika word veral in lae-inkomstewoongebiede aangetref, en dit dra tussen 4% en 16% tot besoedeling in die omgewing by, en 9% tot 55% tot binnenshuise partikelstofkonsentrasies. Sy sê mense is bewus daarvan dat townships swak luggehalte het en dat daar 'n ongelykheid ten opsigte van luggehalte in Suid-Afrika is. Dit is waar gesegdes soos "dis winderig in die voorstede en stowwerig in die townships" vandaan kom.

"Een van die redes waarom dit in die townships stowwerig is, is dat 80% van die strate in hierdie lae-inkomstewoongebiede nie geteer is nie," sê sy.

In haar verduideliking van hoe die navorsing gedoen is, sê Ncobile dat hulle 'n groep stofnaspoorders gehad het wat die fyn partikelstof gemeet het wat in die atmosfeer vrygestel word wanneer motors verbyry. Hulle het ook 'n verkeer-teller gehad wat die eienskappe van die motor gemeet het, en 'n meteorologiese stasie om die wind en die temperatuur van die atmosfeer te meet.

Ncobile het al hierdie data geïntegreer om vas te stel hoeveel fyn partikelstof van ongeteerde en geteerde strate vrygestel word wanneer elke motor verbyry om vas te stel of dit die oplossing sal wees om die strate te teer.

"As ons die strate teer, kan ons die hoeveelheid fyn partikelstof in die atmosfeer verminder en moontlik die luggehalte in hierdie lae-inkomstewoongebiede verbeter. As ons erns wil maak met die hantering van luggehalte in die land, moet ons eerstens al die bronne identifiseer. Tweedens moet ons die ooglopende ongelykhede in luggehalte aanpak," sê sy.

Prof Stuart Piketh en prof Roelof Burger was die studieleiers vir haar studie. Die resultate is in 2021 aan die nasionale vereniging vir skoon lug voorgelê en sal later hierdie jaar by 'n konferensie in Manchester, Verenigde Koninkryk aangebied word.

 TERUG:
Waarom vroeë sifting vir bloeddruk
by kinders noodsaaklik is
facebook
twitter
youtube
More research news

Deel asseblief jou kommentaar en insette deur 'n e-pos aan die nuusbriefredakteur, willie.duplessis@nwu.ac.za te stuur.