Februarie 2022

NWU produseer navorsing wat saak maak

Welkom by 2022 se eerste uitgawe van die Noordwes-Universiteit se nuusbrief, Navorsing@NWU.

streetfood

In hierdie studie is die pad vorentoe ongeluksvry

Het jy jou al ooit 'n samelewing ingedink waar daar geen padongelukke is nie? 'n Padomgewing waar motors met mekaar kan skakel en kommunikeer om jou te help om jou besluite op die pad te neem? Wel, dit is onder andere wat dr Thulani Phakathi, 'n onlangse PhD-gegradueerde aan die NWU, deur sy doktorale navorsing beoog.

Sy PhD-studie het gefokus op die gebruik van kuber-sekuriteitstegnologie om die prestasie van tele-kommunikasienetwerke en die ontwerp van doeltreffende roeteringsprotokolle te verbeter.

Die titel van sy navorsingonderwerp is "Node-based quality of service-aware security framework for sinkhole attacks in mobile ad hoc networks".

immagine1

'n Sinkgataanval?

'n Sinkgataanval (sinkhole attack) verwys nie na die massiewe gate wat onder paaie of geboue verskyn nie, maar na 'n netwerkgebaseerde aanval waar 'n kwaadwillige nodus probeer om netwerkverkeer te lok deur sy valsroetebywerking te adverteer. Dit wysig roeteringsinligting of keer dit selfs sodat dit nie in die netwerk oorgedra word nie. Dit is 'n probleem wat telekommunikasienetwerke jare lank al beïnvloed.

Thulani se navorsing bied 'n nodusgebaseerde sekuriteitsraamwerk aan wat beskerming teen sinkgataanvalle bied deur die vals roetes te verwyder en bandwydte-optimalisering te verseker.

Die studie het verskillende aspekte van mobiele ad hoc-netwerke (mobile ad hoc networks), of kortliks MANET'e, hanteer, insluitende netwerkprestasie, trustbestuur en, uiteindelik, die ontwerp van 'n doeltreffende sekuriteitsraamwerk.

Thulani sê die internet van dinge (IoT) sal 'n baie groot rol in die toekomstige internetparadigma speel.

"Die doel is om MANET'e as kragsentrales en strategiese rolspelers in toekomstige slimmotors, stede en omgewings te posisioneer," sê hy.

Waar pas slimmotors in?

In geval jy gewonder het wat dit al alles met slimstede en slimmotors (bedoelende ongeluksvry) te doen het, verduidelik Thulani dat telekommunikasienetwerke daaragter sit. Wanneer mobiele kommunikasie verbeter word, hetsy tussen voertuie, tussen voertuie en padeenhede, of tussen padeenhede self, word die weg vir beter veiligheidsbestuur, verkeersbestuur en internetdienste gebaan.

Hy voeg vinnig by dat tegnologie nie mense sal vervang nie. "Ek het nog nooit tegnologie as 'n vervanging vir mense gesien nie, maar bloot om prosesse moontlik te maak. Dit is hoe ek MANET'e beskou. Hulle bydrae tot die padomgewing, militêre ruimte en huise is presies wat ons van moderne tegnologie verwag."

Thulani sê hy lees uitvoerig oor MANET'e om al die potensiaal te verstaan wat hulle vir die toekoms inhou. "Ek het nog altyd oor die moderne digitale slagveld binne die militêre ruimte gedink en oor hoe kritiek betroubare kommunikasie in noodreddingsituasies soos vloede en brande is waar daar geen bestaande infrastruktuur in plek is nie."

Die doelwit, volgens Thulani, is om hierdie studies te ontwikkel tot by die punt waar ons ophou om ons in 'n ongeluksvrye samelewing in te dink, en werklik in een te woon.

 TERUG:
Topdienstoekenning vir
NWU-sterrekundige
 VOLGENDE:
Bloedparasiete kom al hoe meer
by Afrika-wildehonde voor
facebook
twitter
youtube
More research news

Deel asseblief jou kommentaar en insette deur 'n e-pos aan die nuusbriefredakteur, willie.duplessis@nwu.ac.za te stuur.