Die storie tot dusver …
“Die Ekonomie Minuut is op 6 Junie 2020 van stapel gestuur en daar was van toe af tot aan die einde van die jaar 107 episodes, hoofsaaklik in Afrikaans.
“Ek het hierdie jaar op 4 Januarie begin en tot nou toe was daar 125 episodes in Afrikaans en 115 in Engels. Die materiaal is 21 265 keer gespeel.
“Ek het in Junie die potgooi vir ’n paar weke laat rus om weer te kyk hoe om my liefde vir die ekonomie op die beste manier te deel. Dankie aan almal wat geluister het.”
- Prof Waldo Krugell
Soek bloot vir Die Ekonomie Minuut op enige potgooiplatform en geniet ’n dapper, nuwe, toeganklike wêreld van ekonomie.
Volgens prof Waldo Krugell van die Skool vir Ekonomie is dit egter moontlik om jou kop baie vinnig om hierdie vak se skrikwekkende terminologie te kry. Die verg net Die Ekonomie Minuut.
eish! het ook ʼn minuut gebruik om vir Waldo oor die potgooiprojek Die Ekonomie Minuut uit te vra.
Wat was die inspirasie agter die projek?
Mense word elke dag met nuus oor die ekonomie gekonfronteer. Hulle hoor oor die radio dat die indeks van alle aandele gestyg het, of dat die rand-dollar-wisselkoers sterker of swakker is, maar daar word gewoonlik geen konteks of agtergrond verskaf nie.
Al wat hulle hoor, is dat dinge verander, maar niemand verduidelik hoekom nie. Dit is dinge wat jy beter sal verstaan as jy ekonomie bestudeer.
As prof in ekonomie het ek egter ’n relatief klein gehoor. Toe die staat van inperking verlede jaar op ons losgelaat is, het ek daardie gehoor ook nog verloor! Die Ekonomie Minuut was die uitvloeisel daarvan. Ek het dit aanvanklik met my studente in gedagte begin, hoewel ek ook graag ’n groter gehoor wou bereik.
Waarom het jy besluit om ’n potgooi-opname as onderrigmedium te gebruik?
Ek het die oudioformaat gekies omdat ek gemeen het my studente lees nie graag nie, en dat ek meer van hulle deur ’n potgooi sal bereik. Ons in Suid-Afrika is nie groot luisteraars van potgooie nie, dus het ek dit onder die vaandel van ECON101 op Facebook bemark.
Waar kan ’n mens na Die Ekonomie Minuut luister?
Jy kan op feitlik enige potgooiverskaffer soos Apple, Google, Spotify en nog meer na Die Ekonomie Minuut luister. Dit word deur Anchor aangebied. Daar is daaglikse episodes in Afrikaans en Engels, hoewel ek op die oomblik ’n kort verposing het.
Wat is jou toekomsplanne vir die potgooi?
Ek wil dit graag deel van ’n groter poging op sosiale media maak. Ek wil Die Ekonomie Minuut graag kort en kragtig hou, maar ek wil dit met materiaal en hulpbronne uit my blog en ’n bietjie meer videomateriaal aanvul. Ek wil ook hê plaaslike radiostasies moet die inhoud daarvan gebruik.
Sit ’n minuut opsy
Van “bulmarkte” tot “beermarkte”, “bruto binnelandse produk” tot “vraagelastisiteit”, “oligopolie” tot “stagflasie” – die wêreld van die ekonomie kan so ontoeganklik klink soos die gerammel van ’n kasteel se valbrug wat opgehys word.
Prof Waldo Krugell geniet niks meer as om sy passie vir ekonomie te deel nie.