Wat helder na vore kom wanneer jy die jongste toevoeging tot die Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe ontmoet, is dat navorsing in sy bloed is.
Prof Don Kurtz is onlangs as buitengewone professor aangestel om saam met prof Thebe Medupe by die universiteit se Mahikeng Astronomiese Sterrewag te werk.
Prof Don, soos hy bekend staan, is die ontdekker van ’n klas van polsende, magnetiese sterre wat die vreemdste sterre is waarvan die mens weet. Hy is ook die medeskrywer van ’n fundamentele handboek van 866 bladsye, Asteroseismology, en sy primêre navorsingsbelangstellings is in diverse toepassings van hierdie dissipline.
Hy het onlangs ’n A1-gradering by die Suid-Afrikaanse Nasionale Navorsingstigting – hulle hoogste toekenning – ontvang. Dit is die bewys van sy passie vir internasionale astrofisiese navorsing en die prestasie wat hy behaal het.
Hoewel ’n buitengewone professoraat ’n eretitel is, is prof Dan geensins van plan om ’n skynhoof te wees nie, en is hy gretig om met studente, personeel en lede van die publiek te skakel.
Tussen vuur en ys
Dit het hy verlede maand gedemonstreer by sy eerste openbare lesing getiteld: “Between Fire and Ice: The Earth’s Special Place”. (Klik hier om na ’n video oor sy lesing te kyk.)
Prof Don het die teenwoordiges deur ’n onderhoudende reis van die sonnestelsel geneem, en die eienskappe van die Aarde, die Maan, die Son en al die verskillende planete verduidelik – iets wat slegs ’n ervare verteller oor so ’n uiters ingewikkelde onderwerp kan regkry.
Hy sê sy openbare lesing moes vermaaklik, opvoedkundig en motiverend wees om ’n nuwe blik op die vreemde en wonderlike wêreld van die wetenskap te gee.
Prof Don het ’n sterk band met die Mahikengkampus nadat hy dit in 2002 vir die eerste keer besoek het. Hy woon tans in Port Alfred in die Oos-Kaap en onderneem nou en dan ’n reis na die Verenigde Koninkryk.
deel sy passie vir navorsing
ONTDEKKER VAN STERRE,
Prof Don,
“Die aanstelling van ’n akademikus van hierdie gehalte beklemtoon die NWU se verbintenis tot uitnemendheid.”
- Prof Marilyn Setlalentoa, adjunk-visekanselier vir gemeenskapsbetrokkenheid en Mahikengkampusbedrywighede
Eagi, die NWU-maskot, verwelkom Prof Don hartlik by die Mahikeng Astronomiese Sterrewag se teleskoop.
Prof Don Kurtz tuur die lug in by die Mahikeng Astronomiese Sterrewag se teleskoop.