Mohsin se spesialiteit

Mohsin Sayed hou aan om sy kalligrafievaardighede uit te brei en leer nou Arabiese kalligrafie. Hy maak elke dag tyd vir kalligrafie, selfs al is dit laat saans.

Pragtige handskrif is

“Ek slaap kalligrafie, ek droom kalligrafie, en ek eet kalligrafie,” is hoe Mohsin Sayed sy passie vir die kuns van kalligrafie beskryf. Mohsin is ’n dosent by die Fakulteit Opvoedkunde op die NWU se kampus in Vanderbijlpark.

Dit het alles begin toe hy ’n student by die Islamitiese Instituut was. Hy het in sy kamer gerus toe hy die Arabiese kalligrafie op ’n kalender teen die muur gesien het. “Die kleure en die vorms was só pragtig,” onthou hy. Mohsin was veral geboei deur die Engelse vertalings op die kalender wat ook in kalligrafiestyl geskryf was. Toe hy huis toe gegaan het, was hy vasbeslote om hierdie antieke kunsvorm te leer beoefen.

 

Hy het in ’n kalligrafiestel belê en was gelukkig om ’n ouer persoon in sy gemeenskap te ontmoet wat ’n meester in kalligrafie was. Abdul Haq Nathie is reeds in sy tagtigs, maar beoefen steeds die kuns en het so ’n vaste hand dat hy ’n reguit streep vryhand kan trek. In sy fleur het Abdul vir Madiba geskryf en het hy internasionale werkswinkels by mense soos Sheila Waters, ’n beroemde Engelse kalligraaf, bygewoon.

 

Mohsin onthou dat hy hom gevra het, “Papa, wat sal jy my vra om my hierdie kunsvorm te leer?”  Abdul het geantwoord dat sy lesse baie duur is: “Ek sal jou toewyding vra,” het hy gesê.

 

Vyftien jaar sedert daardie eerste les

 

“Van daardie dag af was ek toegewy aan die kuns van kalligrafie,” sê Mohsin, en voeg by dat dit amper 15 jaar is sedert sy eerste les by hierdie onderwyser wat hy so liefderyk “Papa” noem. Hy het sedertdien talle verskillende style van Engelse kalligrafie bemeester, maar sê dat hy steeds leer. “Kalligrafie is ’n kuns wat jy moet aanhou vervolmaak.”

 

Hy het met Romeinse skrif begin, wat as die oudste styl ter wêreld beskou word, en wat op klipgraverings van 600 vC voorkom. Mohsin verduidelik dat die Romeinse skrif op die vorming van ’n “O” gebaseer is. In die 11de eeu is Swart Letter-skrif, ook as Gotiese skrif bekend, uit die gebruik van vertikale lyne of hale ontwikkel. Kursiewe skrif is nog ’n styl wat vanaf die letter “O” ontwikkel het, maar is skuinser en het eiervormige letters.

 

Mohsin sê dit is die basiese beginsels van kalligrafie en uiters belangrik vir enigeen om te bemeester as hulle ooit in die kuns wil vorder.

 

Skryf met enigiets, op enigiets

 

Mohsin geniet dit veral om moderne kalligrafie te beoefen en hou daarvan om dit met spuitverf en ander eietydse invloede te kombineer. “As jy 'n ware kalligraaf is, moet jy met enigiets, op enigiets kan skryf,” sê hy, en vertel hoe hy soms selfs sy vinger gebruik om mee te skryf.

 

Hy skilder ook en neem deel aan gimnastiek, boogskiet en die Brasiliaanse nie-strydlustige gevegskunsvorm, Capoeira.

 

Mohsin is ’n dosent in kurrikulumontwikkeling en praktiese onderwys vir eerstejaars en is besig met sy meestersgraad in natuurwetenskap-onderwys en ondersoek vleigebiede.

 

“As Capoeirista ontstaan jou bewegings uit die grond – die omgewing is vir my dus baie belangrik.” Hy hoop om ’n Capoeira-groep op die kampus te begin en beplan ook ’n kalligrafie-werkswinkel om hierdie twee kunsvorms lewendig te hou.

Kyk na die kort video om te sien hoe Mohsin die woord Eish! skryf.

>

LEES MEER

>