Prof Peet van der Merwe is ʼn navorser in die eenheid Toerismenavorsing in Ekonomiese Omgewings en die Samelewing (TREES) op die kampus in Potchefstroom.
Trofeejag is heelwat meer werd vir die Suid-Afrikaanse ekonomie as wat voorheen gemeen is.
’n Nuwe studie, met prof Peet van der Merwe van die navorsingseenheid Toerismenavorsing in Ekonomiese Omgewings en die Samelewing (TREES) aan die hoof, toon dat dit soveel as R1,98 miljard kan wees, indien nie meer nie. Dié studie is in samewerking met die Professionele Jagtersvereniging van Suid-Afrika (PHASA) onderneem.
“Ons navorsing, wat hoofsaaklik op buitelandse toeriste of jagters gefokus het, het getoon dat jagters gemiddeld 10 300 VS-dollar per jagtog bestee,” sê Peet. “Dit is ongeveer R134 500. Die vorige studie wat ons in 2013 gedoen het, was nie naastenby so omvattend nie en het getoon dat trofeejag R1,3 miljard tot die ekonomie bygedra het. Hoewel dit baie is, het ons die waarde daarvan onderskat.”
“Dit beteken ook die mark moet ophou om jagters te onderskat,” sê hy. “Hulle wil nie mislei word met ’n vals jagervaring nie – hulle wil die egte Afrika-ervaring hê. Met toenemende kompetisie van Namibië moet die bedryf jagpakkette en -ervarings van gehalte verskaf.”
Peet glo kompetisie van lande soos Namibië goed is vir die jagbedryf. “Dit is belangrik dat ons ons produk bly evalueer om ’n leier in die bedryf te bly.”
“Daar is niks so effektief vir bemarking as mondelinge aanbeveling nie, en as ons ’n produk en ervaring van die hoogste gehalte te verskaf, sal dit ons goed te staan kom. Dit is egter nie genoeg nie. Die Nasionale Departement van Toerisme (NDT) doen baie om Suid-Afrika as toerisme- en ekotoerismebestemming te bemark, maar jag word hoofsaaklik deur die privaat sektor soos produkeienaars en PHASA bemark. Dit is ’n selektiewe mark, maar die NDT kan meer doen om dit te ondersteun.”