STEFANIE SE

HAMMER

slaan die spyker op sy kop

Dit is ʼn stil Vrystaatse middag en Stefanie en haar pa is van die skool af op pad huis toe.Toe hulle by die Sasolburg-stadion verbyry, sien die graad 6-leerder hoe die Afrika-rekordhouer, Chris Harmse, sy vaardighede in die hamergooisirkel oefen. Haar pa glimlag toe sy opgewonde na die atleet wys en sê sy wil “daardie sport” probeer.  Min het hy besef dat wat sy dogter daardie middag gesien het, haar lewe vir altyd sou verander

“Ek is eintlik ’n groot pessimis.  Ek moet myself gedurig daaraan herinner dat ek moet opstaan as ek val, selfs ná die agste of negende keer. Dit sal my raad aan ’n toekomstige atleet wees. Hou aan probeer.  Moet nooit ophou nie. Die deur sal oopgaan. Hou net aan.”

Baie jare later is Stefanie Greyling ’n finalejaarstudent in BCom Sport en Rekreasiebestuur op die kampus in Vanderbijlpark. Haar liefde vir hamergooi hou haar ses uur per dag aan die oefen: drie uur in die sirkel, twee uur in die gim en een uur met driloefeninge.

 

Haar oë blink wanneer sy praat oor die sport waarvoor sy so lief is en die plekke waarheen dit haar oor die afgelope dekade geneem het – na alle uithoeke van Suid-Afrika, asook Zimbabwe, Ethiopië en die Oekraïne.  “’n Besliste hoogtepunt vir my was die Wêreld Jeugkampioenskap in Donetsk in die Oekraïne,” onthou sy met ’n glimlag.  “Ek was nog in graad 11 en dit was só ’n voorreg om my land te verteenwoordig.  Ek dink dit is daardie ervaring wat my aan die gang hou, selfs in moeilike seisoene soos die een wat agter die rug is.”

 

Beserings hou haar nie terug nie

 

As lid van die NWU se atletiekspan is Stefanie se 2017-seisoen deur beserings gekortwiek – eers haar knie en toe haar skouer. Hoewel dit haar nie gekeer het om op haar gewone vlak te presteer nie, kon sy nie haar afstand verbeter nie.

 

Dinge het egter beter begin raak. “Ek kon uiteindelik by die SA Studentekampioenskap my grootste teenstander klop,” lag sy, met verwysing na Letitia Janse van Rensburg, ’n spanmaat en een van haar beste vriendinne. “Ek en Letitia motiveer mekaar om al hoe beter te vaar. Ons spot lekker en maak of ons vyande is. Dis wonderlik om ’n vriendin soos sy te hê.  As ek wen is sy saam met my bly. As sy wen, vier ek dit saam met haar.”

 

Wanneer sy oor haar rolmodel uitgevra word, noem sy onmiddellik die naam van die Duitse hamergooier, Betty Heidler. Stefanie het die voorreg gehad om haar heldin by ’n sportkliniek te ontmoet by die Hoër Tegniese Skool Sasolburg, waar sy gematrikuleer het. “Betty sukkel ’n bietjie op die oomblik, maar sy bly steeds my heldin.  Sy het ’n ongelooflike tegniek en in die gim tel sy 20 keer die gewig op wat ek kan!" sê Stefanie.

 

Al hoe meer vroue beoefen hierdie sport

 

Daar is baie om by ’n sterk vrou soos Betty Heidler te leer.  Die sport word steeds grootliks deur mans oorheers, maar Stefanie sê vroue-atlete stel die afgelope tyd al hoe meer daarin belang. Al hoe meer meisies woon ook die jaarlikse kliniek by wat sy by die Hoërskool De Kuilen in die Wes-Kaap aanbied.

 

“Ek het begin om Wes-Kaap toe te gaan om ’n paar atlete met hulle tegniek te help. Dit het nou al ’n jaarlikse kliniek geword, met talle afrigters wat dit bywoon om self die gevoel vir die hamer te ontwikkel,” verduidelik sy.

 

Haar plan is om in 2018 vir haar honneursgraad in entrepreneurskap in te skryf en af te rig nadat sy gegradueer het.  “Ek wil graag die sport in Suid-Afrika bevorder,” sê sy.

 

Met ’n persoonlike beste afstand van 58,70 m met ’n 4 kg-hamer bevorder Stefanie die sport as deel van die NWU se atletiekspan en deur toekomstige atlete te motiveer, hou sy aan om haar droom na te volg.

 

 

>

>

LEES MEER