Kinders moet buite speel, want dit hou vir hulle voordele in soos om hul motoriese en sosiale vaardighede te verbeter en ʼn gesonde dosis vitamien D te kry. Ongelukkig is daar egter nie genoeg beplanning vir beter groen, kindervriendelike oop ruimtes in veral die plattelandse gebiede van Suid-Afrika nie.

Deesdae is daar ʼn groeiende bewuswording oor hoe belangrik en voordelig veilige, goed-ontwerpte oop ruimtes vir kinders is, sê prof Juaneé Cilliers van die navorsingsgroep oor ruimtelike beplanning, ontwikkeling en implementering in die Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe.

 

“Munisipaliteite in veral plattelandse gebiede slaan dikwels nie ag op hierdie belangrike ruimtes binne gemeenskappe nie, meestal as gevolg van begrotingbeperkings, maar ook omdat die waarde van hierdie areas nie gekwantifiseer is nie.”

 

Sy sê navorsing het getoon dat ʼn kind se interaksie met die wêreld direk deur hulle natuurlike omgewing beïnvloed word. “Die feit dat 29,2% van Suid-Afrika se bevolking jonger as 15 jaar is, maak dit net nog belangriker dat ons vir genoeg groen, kindervriendelike oop ruimtes moet beplan en voorsiening maak.”

 

Vat hande met Finland

 

Juaneé sê hulle doen navorsing saam met kollegas van Aalto Universiteit in Finland. Die Nasionale Navorsingstigting het in 2015 ʼn voorlegging aanvaar vir navorsing oor die ruimtelike beplanning van kindervriendelike ruimtes en befonds steeds die projek.

Om plaaslike kindervriendelike ruimtes te beplan en besluitenemers bewus te maak van die belangrikheid daarvan, is deel van haar gemeenskapsbetrokkenheid-projek. Twee meestersgraadstudente, een PhD-student en ʼn nadoktorale genoot werk saam met haar aan hierdie projek.

 

“Ons het in samewerking met prof Anita Pienaar van Kinderkinetika die groot en kleiner motoriese vaardighede wat kinders van verskillende ouderdomme behoort te hê, bestudeer en probeer om dit ook by die fisiese beplanning en ontwikkeling van die ruimtes te inkorporeer.”

 

 

Vaalharts en Ikageng se kinders baat

 

Die navorsers het die konsep van kindervriendelike areas in die Vaalharts-gebied toegepas, omdat hulle baie van AUTHeR, ʼn navorsingseenheid op die kampus in Potchefstroom, se data oor die behoeftes van die kinders in hierdie gebied kon gebruik. Hulle het ook die King’s Kids kleuterskool in Ikageng, waar die Potchefstroomse Equilibria School of Life ʼn kwalitatiewe herontwerp van die area gefasiliteer het, as gevallestudie ingesluit.

“Ons grootste uitdaging is om etiese goedkeuring vir die navorsing te kry, aangesien kinders as ʼn kwesbare groep beskou word en daar sensitief met data-opnames te werk gegaan moet word,” sê Juaneé.

 

Veiligheid is ook ʼn reuse-uitdaging. “Die interpretasie van veiligheid vir ons realiteit verskil hemelsbreed van dié van byvoorbeeld Europa. In Finland word veiligheid gekoppel aan

onafhanklike beweeglikheid van kinders in ʼn area, terwyl ons baie meer ingestel is op misdaadoorwegings en hoe die ontwerp van sulke ruimtes dit kan hanteer.”

 

“Ons hoop hierdie navorsing sal help om munisipaliteite te lei in die beplanning en ontwikkeling van genoegsame kindervriendelike ruimtes in Suid-Afrika.”

 

Hierdie openbare oop ruimte in Ikageng is in ʼn pragtige interaktiewe ruimte vir kinders omskep en die foto’s wys hoe die ruimte voor, tydens en ná die projek gelyk het.

>

LEES MEER

>