“Ek is seker ons stem almal saam dat een maaltyd ’n dag nie genoeg is nie, maar dit is ’n goeie plek om te begin as jy behoeftige studente wil help om hul volle potensiaal te ontwikkel,” sê Maria Mopelong, koördineerder vir fondsinsameling en ontwikkeling.

 

Die NWU ontvang elke jaar meer as 1 000 Meal-a-Day-aansoeke op al sy kampusse, en die behoefte is selfs groter as wat die getalle aandui, aangesien nie almal om hulp vra nie. Die aanduidings is dat die behoefte die beskikbare hulpbronne ver oorskry.

 

Skenk ʼn maand se voorraad

 

Die Fondsinsamelings- en Ontwikkelingskantoor, in samewerking met die NWU se drie kampusse, bedryf die Meal-a-Day-projek, wat aan behoeftige studente ’n maand se voorraad noodsaaklikhede gee, wat klere, toiletware en genoeg kos vir een maaltyd per dag insluit.

 

Die jongste skenker om hierdie verdienstelike projek te ondersteun, is Tiger Brands, ’n JSE-genoteerde vervaardiger en bemarker van vinnig bewegende verbruikersgoedere. Hulle skenking sal help om baie leë mae te vul. Hulle het vroeg in Maart groot hoeveelhede voedselitems geskenk, en onderneem om voortaan gereeld kos aan die projek te skenk.

 

Voorvalle van ondervoede studente wat tydens lesings flou val, is ongelukkig ’n groeiende realiteit op al die kampusse.

 

Ondervoeding is ’n groot uitdaging

 

’n Toenemende getal studente sukkel om teen die einde van die jaar met hulle geld uit te kom, sê Maria. “Wanneer Barmhartige

Samaritaan-medestudente nie hulle hulp kan volhou nie, nader hulle gewoonlik Meal-a-Day namens die behoeftige studente vir hulp.”

 

Die toename in versoeke om hulp het die programadministrateurs gedwing om streng keuringskriteria toe te pas. Slegs behoorlik ingevulde aansoeke met die vereiste stawende dokumente word oorweeg.

 

Studente se studievordering word ook streng dopgehou, en hulp word gestaak as die student se prestasie nie aan die gestelde akademiese kriteria voldoen nie. Die hulp word grootliks beperk tot behoeftige studente met beurse wat nie vir kos voorsiening maak nie.

 

 

Toegewyde spanne agter Meal-a-Day

 

’n Ambisieuse program soos Meal-a-Day het die ondersteuning van ’n toegewyde span nodig. Aansoeke word deur voltydse en vrywillige maatskaplike werkers en sielkundiges gekeur, sonder wie die program nie moontlik sal wees nie. Die fondsinsameling- en ontwikkelingspan is voortdurend op soek na potensiële skenkers om die program te ondersteun. Die span bestaan uit Cathy Castagno, Hannes Malan, Maria Mopelong, Silvanus Welcome en Winton Windell.

 

ʼn Implementeringspan, met verteenwoordigers van al die kampusse, is by die keuring en monitering van aansoeke betrokke. Hulle is Lerato Wana in Mahikeng, Petro Boshoff in Potchefstroom en Maggie Matsaneng in Vanderbijlpark.

 

Die NWU se studente is nog ’n sterk krag in die stryd teen ondervoeding. Hulle samel niebederfbare kos deur projekte soos Jool in. Die Big Prim-inisiatiewe in die koshuise, veral dié op die NWU se kampus in Potchefstroom, verskaf onopvallende maar betekenisvolle steun aan behoeftige inwoners. Daar is ook ander anonieme ondersteuners.

 

Die NWU se Meal-a-Day-projek het die afgelope agt jaar ’n belangrike bydrae tot die fisiese welstand van studente gelewer.

>

>

LEES MEER

Jy kan ’n verskil maak

 

Maria sê studente, personeel, alumni en vriende sal binnekort aanlyn tot Meal-a-Day en ander verdienstelike universiteitsprojekte kan bydra. Sy doen ’n beroep om ondersteuning. “Jy kan ʼn verskil maak,” sê sy. Belangstellendes kan Maria by maria.mopelong@nwu.ac.za of X85 2596 kontak.

BEWEEG OOR FOTO'S

Maria Mopelong van die NWU se Fondsinsamelings- en Ontwikkelingskantoor sê die universiteit is baie dankbaar vir die groot hoeveelheid voedselitems wat Tiger Brands geskenk het. Dit het kos soos sousboontjies, gemengde vrugtekonfyt, grondboontjiebotter, suikersplit-ertjies, gemengde groente, suikerboontjies, hawermout, rys, stampmielies en mieliemeel ingesluit.
Klaar gepak en reg om te vertrek: Maria sê dié spesifike besending met broodnodig kositems is op pad na die NWU se kampus in Vanderbijlpark.