>

>

LEES MEER

Die NWU se direkteur vir gemeenskapsbetrokkenheid, Bibi Bouwman, is as die voorsitter van die Suid-Afrikaanse Gemeenskapsbetrokkenheidsforum vir Hoër Onderwys (SAHECEF) aangestel.

Bibi se hart klop met passie vir gemeenskapsbetrokkenheid en sy is reeds sedert SAHECEF in 2009 gestig is, deel daarvan. Sy het voorheen op die organisasie se uitvoerende dagbestuur gedien en is tydens die laaste raadsvergadering, wat aan die einde van Maart hierdie jaar deur die Universiteit van Johannesburg aangebied is, tot voorsitter van SAHECEF verkies.

 

Min mense is kundiger as Bibi oor die sake van die organisasie, wat daarop gemik is om alles wat met gemeenskapsbetrokkenheid te doen het, te bevorder.

 

As ’n SAHECEF-veteraan het Bibi die organisasie se eerste nasionale kongres in 2011 in Oos-Londen bygewoon, en die organisasie by die internasionale konferensie van die Talloires Network in Stellenbosch in 2015 verteenwoordig. “Die aanvanklike motivering vir die stigting van SAHECEF was om bestuurders met die prosesse en koördinering van gemeenskapsbetrokkenheid by universiteite te help.”

 

Sy sê hulle het gou besef dat daar ook ’n behoefte was om goeie praktyke te ontwikkel en te deel – nie net vir bestuurders nie, maar ook vir diegene wat gemeenskapsprojekte implementeer. Dit het tot die insluiting van meer werksgroepe by SAHECEF gelei.

 

“Ons glo gemeenskapsbetrokkenheid is een van die maniere waardeur transformasie in Suid-Afrika kan realiseer. Universiteite ontwikkel die nuwe leiers vir ons land en hulle het blootstelling aan gemeenskapsbetrokkenheid nodig as hulle in die toekoms doeltreffende leiers wil wees.”

 

Vir meer inligting oor SAHECEF-lidmaatskap, skakel Bibi by X99 4935 of besoek

www.sahecef.ac.za

 

Maak ʼn verskil in hoër onderwys

 

SAHECEF is daartoe verbind om gemeenskapsbetrokkenheid by Suid-Afrikaanse hoëronderwysinstellings voor te staan, te ondersteun, te moniteer en te versterk. Die organisasie beoog verder om gemeenskapsbetrokkenheid by hierdie instellings te bevorder in samewerking met alle belanghebbers wat tot die maatskaplike en ekonomiese volhoubaarheid van die Suid-Afrikaanse samelewing kan bydra.

 

Die organisasie wil begrip van gemeenskapsbetrokkenheid as ’n integrale deel van die kernbesigheid van hoër onderwys kweek.

 

Bibi sê sy sien uit na die opwindende uitdagings wat voorlê. Een van die grootste uitdagings is befondsing vir gemeenskapsbetrokkenheid, en SAHECEF wil dit oorkom deur met fondsinsamelingsprojekte te help. Ander uitdagings wat Bibi en haar span besig sal hou, sluit in die aanbied van ’n 10-jaar-vieringskonferensie in 2019 en die publikasie van ’n boek oor gemeenskapsbetrokkenheid in Suid-Afrika.

 

Hoe lidmaatskap werk

 

Elke universiteit het tans ’n trustee wat deur die visekanselier aangestel word. Die trustee en vyf ander lede van elke universiteit word lede van SAHECEF.

Bibi sê die organisasie wil hê ander personeel en studente moet betrokke wees, en daarom nooi hulle akademiese personeel en studente-organisasies uit om by die organisasie aan te sluit. Ledegeld word jaarliks betaal en beloop R300 per persoon en R250 vir studente-organisasies.

 

Dit sal Bibi Bouwman se taak as voorsitter van SAHECEF wees om die organisasie na nuwe en opwindende hoogtes te lei.

 

“Talle hanteer gemeenskapsbetrokkenheid, maar min mense deel die prosesse met ander en besin op ’n akademiese vlak daaroor wanneer hulle transdissiplinêre en multidissiplinêre werk doen.”

 

“Ons wil seker maak dat dit verander en dat almal wat met gemeenskapsbetrokkenheid te doen het, hierdie uiters waardevolle kennis met hul kollegas en die samelewing deel. Ons is baie bewus daarvan dat nie alle tipes kennis uitsluitlik in die hart van die universiteite geleë is nie, en dat ons deur deelnemende aksienavorsings- en leertegnieke saam met eksterne vennote nuwe kennis kan skep.”

 

Bibi se span

 

As voorsitter van SAHECEF sal Bibi nou saamwerk met die adjunkvoorsitter, prof Vhonani Netshandama van die Universiteit van Venda, asook met die sekretaris, Ernestine Meyer-Adams van die Universiteit van Johannesburg, en die tesourier, biskop Billyboy Ramahelele van die Universiteit van die Vrystaat. Ander spanlede is die bemarking- en kommunikasiebeampte, Jacqui Scheepers van die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie, en die koördineerder van die streeksafdelings, dr Antoinette Smith-Tolken van die Universiteit Stellenbosch.

 

Mahikeng-personeel sal afdeling byeenroep

 

Nog ’n personeellid van die NWU, dr Miranda Mgijima van die NWU se kampus in Mahikeng, is verkies om as sameroeper van die Noord-Kaap-, Noordwes, Suid-Gauteng- en Vrystaat-afdeling van SAHECEF op te tree.

 

Streeksameroepers sal saam werkswinkels reël om samewerking, die deel van goeie praktyk, kapasiteitsbou en vaardigheidsontwikkeling ten opsigte van gemeenskapsbetrokkenheid vir die universiteite in die onderskeie streke te hanteer.