The good work done by these participants in the Institutional Teaching Excellence Awards ceremony (ITEA) does not go unnoticed. Click he re to see who the winners in the different categories are.

Goeie werk gaan nooit ongesiens verby nie. Dit is op 20 April beklemtoon tydens die Institusionele Toekennings vir Onderriguitnemendheid- (ITOU-) seremonie in Potchefstroom.

NWU gee erkenning aan uitmuntende dosente

Prof Alfred Henrico van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe het die Toekenning vir Uitsonderlike Onderriguitnemendheid ontvang. Saam met hom is  van links Prof Dan Kgwadi, visekanselier van die NWU, Prof Renier Jansen van Rensburg, direkteur van die Skool vir Ondernemingsbestuur, en prof Jan van Romburgh, waarnemende dekaan van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe.

Dié jaarlikse gebeurtenis gee erkenning aan die beste NWU-dosente. Hierdie jaar het die hoogste toekenning aan prof Alfred Henrico van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe op die NWU se kampus in Potchefstroom gegaan. Hy was die wenner in die Toekenning vir Uitsonderlike Onderriguitnemendheid- (TUOU-) kategorie.

 

Toekenning beloon harde werk

“Ek voel geëerd en dankbaar teenoor die NWU vir die toekenning. Die universiteit se ITOU-stelsel is uitstekend. Dit is nie slegs gerig op die beloning van uitnemende onderrig nie, maar ook op die ontwikkeling van dosente se onderrigvaardighede.”

 

Alfred sê hy is ook dankbaar teenoor elke kollega en student by wie hy kon leer. “Hulle het my in staat gestel om in my onderrigtaak te ontwikkel – sonder hulle was hierdie toekenning nie moontlik nie.”

 

Hy beskou die toekenning as beloning vir sy harde werk en sy fokus om 'n positiewe verskil in studente se lewens te maak en tot hulle ontwikkeling as die toekoms van Suid-Afrika by te dra.

 

Drie kategorieë vir uitnemendheid

Toekennings is in drie kategorieë gemaak, naamlik die Toekenning vir Opkomende Onderriguitnemendheid (TOOU), die Toekenning vir Onderriguitnemendheid (TOU) en die Toekenning vir Uitsonderlike Onderriguitnemendheid (TUOU).

 

Altesaam 48 akademici het toekennings ontvang. Die fakulteit wat die meeste wenners opgelewer het, is die Fakulteit Geesteswetenskappe op die NWU se kampus in Vanderbijlpark met agt wenners, gevolg deur die fakulteite Lettere en Wysbegeerte en Gesondheidswetenskappe op die kampus in Potchefstroom, wat gesamentlik tweede was met ses wenners elk. Die Fakulteit Teologie, ook in Potchefstroom, was in die derde plek met vyf toekennings.

 

Die toekennings word gemaak om waardering te betuig teenoor dosente vir hulle verbintenis en toewyding tot studentesukses, en om akademici aan te moedig om op die gebied van onderrig en leer te ontwikkel.

 

Dit is die derde jaar dat die toekennings in hierdie kategorieë gemaak word.

 

So meet mens uitnemendheid

Deelnemers aan die TOU-toekennings moet aan ten minste 80% van die kriteria in die individuele kategorieë voldoen. Hulle moet ’n weldeurdagte portefeulje as bewys van hulle onderrig- en leer-aktiwiteite voorlê en word tydens ten minste twee leergeleenthede waargeneem, waarvan een onaangekondig is.

 

Daar word ook van deelnemers verwag om aanbiedings by ’n jaarlikse kampus- of fakulteit-colloquium oor onderrig en leer te lewer.

 

Hulle portefeuljes word deur panele nagesien wat uit verteenwoordigers van die Sentrum vir Onderrig en Leer (SOL) en SOL-adviseurs van die drie kampusse bestaan.

 

Die portefeuljes van die TUOU-wenners word intern en ekstern nagesien.

 

Uitnemendheid en innovasie seëvier

Prof Dan Kgwadi, visekanselier, sê die NWU is baie trots op die gehalte van sy akademici. “As gevolg van julle kan ons studente verseker dat hulle dosente van hoogstaande gehalte het.”

 

Die gasspreker by die geleentheid, dr Diane Parker, adjunkdirekteurgeneraal vir universiteitsonderrig van die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding, het die NWU se akademici geloof vir die uitstekende werk wat hulle doen om leer te bevorder. “Julle toewyding aan uitnemendheid en innovering en die passie wat julle in onderrig en leer toon, sal beslis tot die sukses van julle studente bydra, en dit dien as inspirasie vir ons almal,” het sy gesê.

 

 

Die harde werk van hierdie deelnemers aan die Institusionele Toekennings vir Onderriguitnemendheid (ITOU) gaan beslis nie ongesiens verby nie. Klik hier om te sien wie die wenners in die verskillende kategorieë is.

  • TOOU-toekenning

    Die TOOU-toekennings beloon opkomende dosente vir uitnemende onderrig. Hierdie dosente toon ’n langtermynvisie vir hulle professionele en loopbaanontwikkeling deur hul buitengewone en bewese prestasie tot innovering in onderrig en leer in hul vakgebied.

     

  • TOU-toekenning

    Die TOU word toegeken aan dosente wat buitengewone en bewese prestasies in onderriguitnemendheid getoon het. Hulle gebruik innoverende benaderings om ’n leerproses te fasiliteer wat studente inspireer en uitdaag.

     

     

     

  • TUOU-toekenning

    Die TUOU vereer voortreflike vakkundiges vir leierskap en prestasie in die vakkundigheid van onderrig en leer. Uitnemendheid word onderskryf deur die TUOU as ’n besondere eerbewys binne die kategorie van die TOU toe te ken.

     

     

     

>

>

LEES MEER