>

>

FOKUS

OP

Die universiteit se Inligtingstegnologiedepartement (IT-departement) werk aktief saam met navorsers om nuwe geleenthede en innoverende oplossings te kry vir uitdagings wat op die gebied van datagedrewe navorsing ervaar word.  Eish! het met Anelda van der Walt, e-navorsingskonsultant, oor die NWU se jongste en uitdagendste grootdata-inisiatiewe gesels.

GROOT-

DATA-

inisiatiewe

V:  Die NWU het twee strategiese vergaderings gehou wat op grootdata*-inisiatiewe gefokus het. Vertel ons meer daarvan. 

A: Die doel van die vergaderings, wat in Februarie gehou is, was om navorsers in te lig oor die talle moontlikhede wat met grootdatategnologieë en kapasiteitsbou verband hou. Hierdie geleenthede het spesifiek met die Afrika-navorsingswolk (African Research Cloud) en die Interuniversitêre Instituut vir Data-intensiewe Astronomie (IDIA) te doen. Die vergaderings het aan navorsers wat dit bygewoon het insig gegee in hoe hulle by grootdata-inisiatiewe betrokke kan raak en daaruit voordeel kan trek. Die eerste vergadering het hoofsaaklik gekonsentreer op die grootdata-inisiatiewe en -uitdagings in fisika, terwyl die tweede vergadering ander dissiplines betrek het, insluitende geestes- en ander wetenskappe.

 

Die sprekers was prof Russ Taylor, wat ʼn gesamentlike navorsingsleerstoel in Radio-astronomie aan die Universiteit van Kaapstad (UK) en die Universiteit van die Wes-Kaap (UWK) lei, en prof Rob Simmonds, adjunkdirekteur van nuwe tegnologieë by die IDIA.

 

Die vergaderings is deur prof Frikkie van Niekerk, die NWU se adjunkvisekanselier vir navorsing, innovasie en tegnologie, gereël.

 

V: Hoe is die NWU by die IDIA betrokke en wat is die doel van die instituut?

A: Die NWU is ’n stigtingsvennoot van die IDIA. Die instituut is ’n vennootskap van Suid-Afrikaanse universiteite en bedrywe en is spesifiek geskep om die uitdaging van die nuwe era van grootdata in astronomie aan te pak. Hoewel astronomie die vernaamste van die ontwikkelings in die IDIA is, vind ander navorsingsvelde soos bio-informatika ook direk by die inisiatief baat.

 

Huidige vennote sluit die NWU, UK, UWK, die Universiteit van Pretoria, en mees onlangs SAP Software Solutions in. Die doel van die IDIA is om navorsers in astronomie, rekenaarwetenskap, statistiek, hoëprestasieberekening, ander navorsingsgebiede en e-navorsing-tegnologieë bymekaar te bring om infrastruktuur en datawetenskaplike kapasiteit en -oplossings te skep.

 

V: Wat is van die ander grootdata-inisiatiewe waarby die NWU tans betrokke is of mee geassosieer word?

A:  Die NWU is by talle grootdata- en datawetenskaplike wetenskapsverwante aktiwiteite betrokke. Dié wat hier genoem word, is maar slegs ’n paar van die baie opwindende inisiatiewe en projekte wat vir die NWU groot sukses in die data-gedrewe wêreld sal laat behaal.

 

Op die gebied van hardeware help die NWU tans navorsers om toegang te kry tot nasionale platforms soos die Sentrum vir Hoëprestasieberekening (Centre for High Performance Computing), terwyl die NWU se hoëprestasie-berekeningsplatform en die Afrika-navorsingswolk opgradeer word.

 

Die Afrika-navorsingswolk is ’n navorsingsvennootskap tussen die NWU en die UK, met ander universiteite wat besig is om voor te berei om deel daarvan te word. Dit verskaf ’n wolkgebaseerde stoor- en ontledingsplatform waarvan die vennootinstellings die gashere is.

 

Opwindende kapasiteitsbou-inisiatiewe sluit in die Software- en Data Carpentry-werkswinkels en die CODATA-RDA-navorsingsdatawetenskap se somerskole. Jong en gevestigde navorsers van die NWU woon hierdie geleenthede by.

 

Die NWU is ook ’n konsortiumlid van die nasionale e-wetenskap nagraadse onderrig- en opleidingsprogram (NEPTTP). Die NEPTTP is ’n meestersgraadprogram wat studente sal help om datawetenskap-kapasiteit te bou op gebiede so uiteenlopend soos finansies, landbou, genomika, sosiale wetenskappe, digitale geesteswetenskappe en vele meer.

 

V: Hoe kan navorsers by hierdie en ander grootdata-inisiatiewe van die NWU betrokke raak?

A: Hulle is welkom om ’n e-pos te stuur aan eresearch@nwu.ac.za. Ons sal hulle volgens hul spesifieke behoeftes raad gee. Hulle kan ook @NWU_eResearch op Twitter volg en meer oor die jongste ontwikkelings en inisiatiewe uitvind.

 

* Grootdata verwys na uiters groot datastelle wat tydens navorsing saamgestel word. Hierdie data word dikwels ontleed om tendense en patrone vas te stel.