Halaal

Nie net 'n term nie, maar 'n leefstyl

In ons reeks artikels kyk Eish! na verskillende kulturele en religieuse praktyke en hoe elkeen bydra tot die ryk, kleurvolle tapisserie van die Suid-Afrikaanse samelewing. In hierdie artikel gesels ons met 'n Moslem-personeellid wat slegs halaal kos eet wat volgens die Islamitiese Shari’a-wet voorberei is. Sy vertel ons wanneer kos as halaal bestempel word en hoe belangrik dit in haar geloof is.

KLIK OM AF TE BEWEEG

>

>

Die Arabiese woord, halaal, beteken "toelaatbaar" en geld vir alle fasette van 'n Moslem se lewe, nie net kos nie. Halaal is een van vyf beginsels wat die morele waardes van menslike gedrag in die Islamitiese geloof definieer. In hierdie artikel fokus ons hoofsaaklik op halaal met betrekking tot kos.

 

Noory Yusuf, administratiewe assistent by die Skool vir Inligtingstegnologie op die Vaaldriehoekkampus, sê sy is trots op halaal aangesien dit haar leefstyl as 'n Moslem is. “Ek wil mense graag aanmoedig om meer daaroor uit te vind sodat daar meer begrip oor die Moslem-geloof en die Islamitiese leefwyse kan wees.”

 

Wanneer word kos as halaal beskou?

 

Halaal verwys na kos wat streng volgens die Islamitiese wet voorberei is. “Moslems mag geen vark of alkohol inneem nie. Halaal vleis is afkomstig van volgroeide, gesonde herbivoor-soogdiere wat op ʼn genadige wyse geslag is terwyl daar gebid word,” verduidelik Noory.

 

Sy sê dat die diere op so 'n wyse geslag word dat hul lyding tot die minimum moontlik beperk word. Dit word gedoen deur die dier se nekslagaar vinnig af te sny.

 

Halaal kos word ook met skoon kookgerei wat nie aan nie-halaal kos of alkohol blootgestel is nie, berei. Noory se maaltye is alles halaal – dit is tuis voorberei met bestanddele wat as halaal gesertifiseer is.

 

 

Noory Yusuf, administratiewe assistent van die Skool vir Inligtingstegnolgie en die TELIT-SA-skakeling vir die Fakulteit Ekonomiese Wetenskappe en Inligtingstegnologie op die Vaaldriehoekkampus, geniet stil oomblikke in die natuur en nou en dan 'n kuier saam met vriende en familielede.

KLIK OM AF TE BEWEEG

Oorwegings tydens funksies

 

Sy sê haar grootste bekommernis by funksies is kruiskontaminasie. “Ek moet seker wees dat die kos wat aan my bedien word van 'n goedgekeurde halaal-verskaffer kom, of ten minste volgens die streng voorskrifte van die Shari’a voorberei is.”

 

“Dit is demoraliserend om mense se onkunde te ervaar wanneer hulle bloot aanneem dat halaal slegs vis of hoender beteken, en dit dan al is wat aan jou bedien word wanneer jy jou dieetvoorkeur aangedui het.”

 

Noory sê dat daar ook 'n wanpersepsie bestaan dat halaal na 'n spesifieke smaak verwys. Baie Suid-Afrikaanse Moslems – Noory inkluis – geniet 'n lekker braai. “Ek hou van die vleis gemarineer in 'n klomp speserye vir daai ekstra skoot aroma en geur, en daarna goedgaar gebraai.”

 

Die belangrikheid van halaal

 

As Moslem glo Noory dat halaal kos nie as beperkend beskou moet word nie. “Hierdie reëls is deur die Almagtige daargestel om ons gesondheid en ons verstandelike en geestelike welstand te beskerm.” Sy sê dit is juis die rede waarom daar geen kompromis moet wees wanneer 'n halaal leefwyse gevolg word nie.

 

Eish! nooi personeel om hulle kulturele gebruike en praktyke met ons te deel. Stuur julle bydraes aan ons Eish! -joernalis, Willie du Plessis, by  willie.duplessis@nwu.ac.za.

Noory Yusuf sê daar is baie wanpersepsies oor halaal. “Baie mense weet nie wat halaal is nie, en dat dit na meer as net kos verwys nie.”

KLIK OM AF TE BEWEEG

Wat is Shari’a-wet?

 

Shari’a-wet verwys na die regstelsel waarvolgens lede van die Islamitiese geloof regeer word. Dit is op die geloofsreëls van die Islam gebaseer soos dit in die Koran en die Hadith opgeskryf staan.

 

Dit definieer moraliteit in Islam

 

Die moraliteit van menslike handelinge word in die Islamitiese geloof deur vyf beginsels gedefinieer. Hulle is Ahkam-fard (verpligtend), mustahabb (aanbevole), halaal (toelaatbaar), makruh (afgekeur) en haram (verbode). Bron: wikipedia.org

 

Halaal kos is heerlik en gesond. Noory Yusuf berei haar maaltye met gesertifiseerde bestanddele voor en voeg geurige speserye by.

TERUG NA BO