'n Groep vroue van die Institusionele Kantoor het 'n goeie doel ondersteun en pragtige serpe as kopdoeke gedra. Die "Kopdoekdag"-inisiatief het op 26 Augustus ter viering van Vrouemaand plaasgevind.

Kopdoeke simboliseer vrouekrag

 

beweeg af

>

>

“Die hele idee van die gebeurtenis was eerstens om Vrouemaand te vier. Ons het die kopdoeke met selfvertroue gedra omdat dit vir ons 'n kroon eerder as onderdrukking of onprofessionaliteit beteken,” vertel Mpho Modupe-Mhonyera, senior administratiewe assistent by die Taaldirektoraat en een van die organiseerders van die inisiatief.

 

Mpho Seshabela, senior rekordbeampte by Korporatiewe en Inligtingsbestuursdienste, sê dat vroue met die dra van die kopdoeke in die voetspore van reuse trap.

 

“Daar is soveel vroue wat voor ons gekom het en sulke belangrike bydraes tot die samelewing gemaak het.  Prof Dan Kgwadi, visekanselier, het dit in sy Vroudagboodskap beklemtoon. Hy het gesê Vrouedag herinner ons aan die opofferings wat vroue op verskillende wyses gemaak het om die lewens van hul gesinne, die gemeenskap, en die land te verbeter. Dit is presies waarom ons besluit het om kopdoeke te dra – om hulle te vereer.”

 

Mpho sê deel van die inisiatief was om iets aan die gemeenskap terug te gee. “Daar is baie vrouestudente op die kampus wat nie kan bekostig om vir hulle toiletware soos sanitêre toebehore, reukweerders, lyfroom of waspoeier te koop nie.”

 

Hulle het besluit om die Doekdag-inisiatief as 'n loodsprojek vir volgende jaar se Vrouedag te gebruik. Die Ingrypsentrum op die Potchefstroomkampus het die toiletware wat ingesamel is aan behoeftige studente gegee.

 

Die Vaaldriehoekkampus het ook 'n "Doekprojek" ter viering van Vrouemaand geloods. Klik hier om meer oor die projek te lees.