>

>

Byderhand-rusplekstories in

De Jonge Akker

Wie hou nie daarvan om ʼn storie te lees met ʼn beker koffie in die hand nie? Besoekers aan die gewilde De Jonge Akker-koffiewinkel op die Potchefstroomkampus kan nou terugsit en ʼn kortverhaal of kinderstorie op hul selfone geniet. Wat die verhale nog meer besonders maak, is dat die gebeure in Potchefstroom afspeel.

 

Die Rusplekstories is deel van ʼn plekspesifieke digitale literatuurprojek van die vakgroep Skryfkuns. Byderhand 2015 was verlede jaar deel van die Woordkunsprogram by die Clover Aardklop Nasionale Kunstefees.

 

In die projek wat uit vier subprojekte bestaan het, is skrywers en kunstenaars met ʼn Potchefstroomverbintenis genooi om werk spesiaal vir Byderhand te skep. Vier subprojekte was deel van die produksie, naamlik Tuinverse in die Botaniese Tuin, Rusplekstories by die Boeke-Oase, ʼn Dwaalverhaal by die Hoër Tegniese Skool en Taxistrips op die FNB-pendelroete.

 

Die gedagte van plekspesifieke digitale literatuur is dat die werk op ʼn plek gelees word wat op een of ander manier met die werk verband hou. ʼn Koffiewinkel in die hart van die kampus is daarom ʼn ideale plek om verhale te lees wat op die kampus, die Bult en in die dorp afspeel. Met die vriendelike samewerking van De Jonge Akker is die Rusplekstories nou sedert die middel van Augustus in dié gesellige koffiewinkel beskikbaar.

 

ʼn Menigte skrywers

 

Die groot verskeidenheid verhale sluit in ligte liefdesverhale, verhoudingsverhale, herinneringsketse, ʼn speurverhaal, asook verhale met ʼn meer literêre strekking. Die jonges van gees sal ook die ses kinderstories geniet.

 

Van die skrywers in die projek is bekende gesigte op die kampus, soos Duane Aslett (dosent in forensiese rekeningkunde en koshuisvader van Veritas), Nelia Engelbrecht (redakteur van Eish!) en Sophia Kapp (voormalige dosent in vertaalkunde en tans taaladviseur by die Virtuele Instituut vir Afrikaans).

 

Die prettige kinderstorie, “Melkskommels vir Minki”, is die werk van sanger Deon Meiring en die kinderboekillustreerder, Zinelda McDonald. Ander bekende skrywers en name is Harry Kalmer, Helene de Kock, Martie Swanepoel, Carié Maas, Marlize Hobbs, Frederick J Botha en Susan Lombaard.

 

Heelwat van die skrywers en kunstenaars is reeds vir hulle werk bekroon. Die versameling verhale sluit ook werk van jonger skrywers en voormalige en huidige skryfkunsstudente in.

 

Om die verhaal te kan lees, skandeer mens die QR-kode op die spyskaart – en die verhaal verskyn in ʼn oogwink op jou selfoonskerm. Daar is ook gemaklike leerbanke waar mens tussen regte boeke die verhale in ʼn nuwe formaat kan ervaar. WiFi is in De Jonge Akker beskikbaar.

ʼn Projek om op trots te wees

Meer om te geniet

ʼn Projek om op trots te wees

Byderhand word aangebied deur die vakgroep Skryfkuns op die Potchefstroomkampus. Die interdissiplinêre kreatiewe en navorsingsprojek word onderneem in die navorsingseenheid Tale en Literatuur in die Suid-Afrikaanse Konteks en vorm ook deel van die vestiging van digitale humaniora by die universiteit.

 

Die projek is moontlik gemaak deur die steun van skrywers en kunstenaars, die Dagbreek Trust, die Navorsingseenheid Tale en Literatuur in die Suid-Afrikaanse Konteks en die vakgroep Skryfkuns in die Skool vir Tale.

Meer om te geniet

Vir nog ʼn Byderhand-ervaring is ʼn besoek aan Byderhand Tuinverse in die Potchefstroomkampus se Botaniese Tuin ʼn nuwe ervaring. Hier het 15 digters werk geskryf wat by die Botaniese Tuin pas. Die digters sluit in TT Cloete, Hans du Plessis, Bernard Odendaal, Johan Myburg, Tom Gouws, Heilna du Plooy, Etienne Terblanche en ander.

 

Vir jonger lesers is daar ʼn tuin vol kinderversies deur Franci Greyling. Die gedigte word aangevul met kunswerke deur Strijdom van der Merwe waarin die gedigte visueel uitgebeeld word. ʼn Verdere toevoeging tot die ervaring is musikale verwerkings, tipografiese animasie asook vertalings in Engels en Setswana.

 

Skandeer die QR-kode by die bankies, sit rustig terug, en ervaar die tuin op ʼn nuwe manier. Bring gerus oorfone saam vir ʼn persoonliker ervaring. Die Botaniese Tuin is weeksdae tussen 08:00 en 16:00 oop en toegang is gratis.

 

Besoek gerus die projekwebtuiste vir meer inligting.

Berig en foto’s: prof Franci Greyling, Skool vir Tale, Potchefstroomkampus

BEWEEG AF

KLIK OM AF TE BEWEEG