KLIK OM AF TE BEWEEG

>

>

Die NWU-Skool vir Besigheid en Korporatiewe Bestuur (Engelse afkorting: “NWU SBG”) het op 18 Augustus hul splinternuwe tuiste in Potchefstroom bekendgestel.

 

Die nuwe gebou wat twee lesinglokale, 'n konferensielokaal, ontvangslokaal, moderne kombuis en verskeie administratiewe kantore bevat, is ten volle toegerus om die nuut gevormde NWU-Skool vir Besigheid en Korporatiewe Bestuur vorentoe te neem wat oop afstandsonderrig betref en ook om uitstekende kontakonderrig van internasionale gehalte te bied.

 

Die twee lesinglokale kan elk 60 studente op 'n slag huisves en kan ook in 'n enkele lokaal omskep word wat dan 120 studente of afgevaardigdes gelyktydig kan akkommodeer. Die lokale het ses kameras wat lesings sal opneem wat op eFundi, die NWU se aanlyn leer- en samewerkingshulpmiddel, geplaas sal word.

 

Dit sal as administratiewe middelpunt van die NWU SBG dien, en sluit die direkteurskantoor en bemarking, openbare betrekkinge en kommunikasie se kantore ook in. Die NWU SBG het drie afleweringsterreine – op die Mafikeng-, Potchefstroom- en die Vaaldriehoekkampus. Die terreine onderskei hulleself in hul bemarking en deur spesifieke marknisse te bedien.

 

Prof Tommy du Plessis, direkteur van die NWU SBG, sê hulle het reeds in die week voor die amptelike onthulling twee kursusse in die nuwe lokale aangebied. Dit sal ook hierdie jaar tydens die komende Aardklop-kunstefees gebruik word.

Prof Fika Janse van Rensburg, waarnemende rektor van die Potchefstroomkampus, en Prof Dan Kgwadi, visekanselier, onthul die naamplaat van die NWU-Skool vir Besigheid en Korporatiewe Bestuur se nuwe fasiliteite.

“Dit is presies wat ons nodig gehad het vir die skool om optimaal te funksioneer en 'n broodnodige derdegeldstroominkomste vir die universiteit te genereer.”

- Prof Tommy du Plessis, direkteur van die NWU SBG

KLIK OM AF TE BEWEEG

Die nuwe lesingfasiliteite voldoen ook aan die akkrediteringsvereistes van die Vereniging vir MBA's. Dit verwys na die estetiese voorkoms en gevoel van die lokale sowel as die tegnologiese gevorderdheid van hulpmiddels soos Wi-Fi en videokonferensiegeriewe.

Terrein met 'n ryk geskiedenis

 

Die nuwe NWU SBG-fasiliteite word in Potchefstroom se oorspronklike Standard Bank-gebou langs die President Pretorius-museum gehuisves.

 

Die eerste bewoners van die stukkie grond was Tswana-boere in die 1500's wat in 1825 deur Koning Shaka Zulu verdring is. Die grond het later die plaas Rietfontein geword voor dit by Potchefstroom ingesluit is toe die dorp in 1838 gestig is.

 

Dit was deel van 'n toekenning van 300 morg aan die eerste president van die Republiek van Suid-Afrika, Marthinus Wessel Pretorius. Dit het deel van sy oorspronklike beeskraal en hoenderhok uitgemaak en tydens die Boereoorlog was dit 'n kampterrein.

 

Daar is in die laat 1980's op hierdie perseel by die Potchefstroomse Onderwyskollege 'n lesinglokaal opgerig wat deur Standard Bank geborg is.

“Dit is inderdaad 'n spoggerige fasiliteit en die hele universiteit kan baie trots wees daarop. Dit is 'n perfekte voorbeeld van die vlak van gehalte waarna ons by die NWU streef.”

- Prof Dan Kgwadi, visekanselier

TERUG

LEES MEER