Hulpmiddels om navorsing in die 21ste eeu moontlik te maak

>

>

Om navorsers te help om die nuwe vaardighede aan te leer wat hulle nodig het om veel groter datastelle te hanteer, bied die NWU werkswinkels aan wat hulle met waardevolle berekeningsvaardighede op verskeie platforms bemagtig.

Met die spoed waarteen die tegnologie verbeter, het hedendaagse navorsers toegang tot baie verskillende en baie groter datastelle as 'n paar jaar gelede.

Die veranderende navorsingslandskap help hulle om vrae te beantwoord wat hulle nooit voorheen sou kon aanpak nie. Dit het egter ook 'n reusebehoefte laat ontstaan na die aanleer van nuwe vaardighede waarmee hulle hierdie nuwe, veel groter datastelle kan hanteer.

KLIK OM AF TE BEWEEG

BEWEEG AF

Inligtingstegnologie (IT) by die NWU het 'n oplossing vir hierdie tameletjie. Hulle bied saam met die Software Carpentry Foundation en sy sustersorganisasie, Data Carpentry, 'n reeks werkswinkels aan wat daarop gemik is om navorsers te help om in die behoefte aan nuwe berekenings- en datavaardighede te voorsien.

 

Anelda van der Walt, e-navorsingskonsultant by die NWU, is al sedert 2014 by Software Carpentry in Suid-Afrika betrokke. Die program, wat hoofsaaklik oopbronplatforms gebruik, het in Kanada ontstaan. Dit is intussen wêreldwyd geïmplementeer, met kundige instrukteurs wat werkswinkels aanbied waar navorsers waardevolle berekeningsvaardighede op verskeie platforms kan aanleer.

 

Fokus op kritieke vaardighede

 

Die werkswinkels fokus op die aanleer van kritieke vaardighede wat noodsaaklik is vir navorsing in die 21ste eeu en is relevant vir navorsers in alle velde. Software Carpentry sluit tipies 'n inleiding tot R of Python in – wat opdragreëlhulpmiddels vir die outomatisering van herhalende funksies is – en 'n oorsig van git en GitHub vir weergawebeheer en samewerking. Data Carpentry is meer onderwerpspesifiek en fokus op hulpmiddels wat in bepaalde velde soos genomika, digitale humaniora of ekologie gebruik word.

 

“Software en Data Carpentry het die potensiaal om 'n beduidende oplossing vir die kritieke tekort aan navorsingsdatawetenskapsvaardighede wêreldwyd te bied. Elke nagraadse student behoort een van hierdie werkswinkels by te woon,” sê Anelda, wie se verbintenis met Software Carpentry by die Universiteit van Kaapstad begin het, en wat haar kundigheid verlede jaar na die NWU verskuif het.

 

Die gratis lesse is met behulp van bykans 18 jaar se wêreldwye navorsing ontwikkel en is onder 'n Creative Commons-lisensie gepubliseer. Software en Data Carpentry verskaf 'n platform waarop navorsers deur samewerking beste praktyke in die komplekse wêreld van die ontleding, visualisering en deel van navorsingsdata kan baasraak. Navorsers kan ook leer hoe om hierdie werkswinkels aan te bied deur van opleidingsgeleenthede vir instrukteurs gebruik te maak.

 

Instrukteursopleiding beskikbaar

 

Die eerste aangesig-tot-aangesig-instrukteursopleiding in Afrika het in April vanjaar by die NWU plaasgevind. Die geleentheid is deur dr Aleksandra Pawlik van die Software Sustainability Institute in Manchester, Engeland gelei, en is deur 23 navorsers en nagraadse studente van regoor Afrika bygewoon. Onder die deelnemers was agt NWU-studente en -personeellede wat by die eerste NWU-gebaseerde werkswinkel in November verlede jaar van die inisiatief gehoor het.

 

Deelnemers aan die werkswinkel kom van 'n verskeidenheid navorsingsvelde. Verteenwoordigers van nege fakulteite oor die drie NWU-kampusse heen het die werkswinkel bygewoon.

 

Anelda sê die werkswinkels is baie gewild. “Wat berekeningsdata betref, word navorsers aan 'n wêreld van nuwe moontlikhede blootgestel. Hulle bring hul eie skootrekenaars na die werkswinkels met die gratis, voorafgeïnstalleerde sagteware reeds daarop. Hulle kan dus saam tik terwyl die instrukteur die lesmateriaal behandel.

 

“Dit bly moeilik om befondsing vir werkswinkels te kry, maar ten spyte daarvan kon ons  goedkeuring kry vir nog 'n paar datums tussen nou en die einde van die jaar. Ons hoop meer mense sal betrokke raak om ons in staat te stel om meer gereeld van hierdie werkswinkels aan te bied.”

 

Die eerste hiervan – onderskeidelik vir sosiale wetenskappe, biologiese wetenskappe en genomika – is op 29 Augustus en 1 September op die Mafikengkampus aangebied, en die volgende een was vir 26 tot 29 September op die Potchefstroomkampus geskeduleer.

TERUG

KLIK OM MEER TE LEES