X

PROFIeLE

Dr Werner van Antwerpen fokus daarop om volhoubare strategieë vir Growthpoint Properties te ontwikkel en te implementeer. Hy spesialiseer in nutsdiensbestuur, verbruikvermindering, die implementering van hernubare energie en die sertifisering van groen geboue vir kantoor-, kleinhandel- en industriële eiendomme.

 

Kyk gerus na die eerste gedeelte van hierdie video om meer oor sy verantwoordelikhede te wete te kom.

 

Eiedomme-portefulje

 

Growthpoint se 471 eiendomme in Suid-Afrika word gewaardeer teen R761,6 miljard. Daarby besit hulle ook 50% aandele in V&A Waterfront-eiendomme in Kaapstad, ter waarde van R6,8 miljard.

 

Werner bou saam aan ’n volhoubare toekoms

Omgewingsbewaring, aardverwarming, klimaatsverandering en groen is vier van die gonswoorde van ons tyd. Hulle spreek van ʼn wêreld met ʼn gesindheid eiesoortig aan die eerste dekades van die 21ste eeu.

 

Daar is voorstaanders hiervan en ook teenstanders. En dan is daar stryders wat op die voorgrond vir ʼn beter toekoms vir volgende geslagte veg. Dr Werner van Antwerpen is een van hulle.


Die Groengeboue Raad van Suid-Afrika (GBCSA – Green Building Council South Africa) het dié alumnus van die Potchefstroomkampus onlangs met hul gesogte Voorsittertoekenning vereer vir sy bydrae as vriend van groen geboue. “Dit was ongelooflik spesiaal,” vertel Werner, hoof van volhoubaarheid by Growthpoint Eiendomme, uit sy kantoor in Sandton.

 

Seana Nkhahle, voorsitter van GBCSA, het nie doekies omgedraai toe hy Werner se bydrae in GBCSA se amptelike verklaring verwoord het nie: “Die ywer waarmee Werner Growthpoint se prestasies as groengebou-leier dryf is legendaries.”

 

Van die Vrystaat tot in Londen

 

Werner is ’n jong man wat ʼn merkwaardige pad gestap het. “Ek kom van ’n mynfamilie in Welkom af en van daar af het ons Fochville toe getrek.” Daarna is dit Potchefstroomkampus toe waar hy vir vyf jaar in die manskoshuis Patria as onderprimarius en primarius gedien het terwyl hy van 2001 tot 2004 ingenieurswese studeer het.

 

Gedurende dié jare wat hy as “die lekkerste tyd van my lewe” beskryf, het hy vir Leandré, ’n farmasiestudent en vandag sy vrou, ontmoet. Vir die afgelope 15 maande is hulle dogtertjie, Elsemay, die derde lid van ʼn gelukkige huishouding.

 

Werner het ook ʼn meesters- en doktorsgraad in kerningenieurswese aan die NWU verwerf.Ná afloop van sy studies neem hy en Leandré ’n groot besluit. Hulle verkoop al hul besittings, pak op en verhuis London toe waar Werner sy MBA by die vooruitstaande Hult-besigheidskool voltooi.

 

“Leandré was toe die broodwinner; sy moes na my omsien,” bieg hy skertsend.

 

Handhaaf ’n gesonde balans

 

Dat hy gedrewe is, is ’n feit, maar net soos vir die geboue waarvoor hy groot aansien verwerf het, is balans vir hom ook baie belangrik. “Ek speel graag tennis en gholf, en probeer ook so dikwels as moontlik by die gimnasium uitkom.”

 

Behoorlik gesondheidsbewus, of hoe? “Verseker,” beaam hy en lag. “Dit is seker omdat my vrou ’n apteker is. Verder hou ek daarvan om audioboeke te luister wanneer ek in die verkeer sit, veral besigheidsboeke en outobiografieë. In die aand lees ek Bybel.”

 

’n Onlangse audioboek wat vir hom uitstaan is Elon Musk, die visionêre entrepreneur en uitvinder van PayPal, SpaceX, Tesla en SolarCity, se nuwe outobiografie. “Hy is iemand wat opspraak maak in ’n veld waarin ek baie belangstel.”

 

Behalwe Werner se verpligtinge by Growthpoint bestuur hy ook ’n organisasie sonder winsmotief, naamlik Child Active. Dit is ’n sportakademie met 10 afrigters wat in die groter George-gebied sportkodes soos krieket, tennis, hokkie en rugby afrig en talent identifiseer. Daar is tans sowat 150 kinders by Child Active betrokke.

 

“Dit is ’n projek wat my baie na aan die hart lê en dis ’n voorreg om ’n positiewe bydrae tot hierdie kinders se lewens te kan maak,” sê hy.

 

Hy praat nie maklik oor homself nie, nee, dis nie in sy aard nie. Volhoubare ontwikkeling gebeur in dade – daarom is ‘doen’ die vernaamste woord in sy woordeskat.

 

 

die NWU & U

 

Stuur gerus vir ons julle kommentaar, voorstelle en enige ander bydraes wat julle wil lewer, byvoorbeeld foto's of nuusbrokkies.

 

Ons waardeer julle opinies en insette – die NWU & U behoort immers aan ons almal.

KLIK

DEEL

<

>

Navigasie

VOLGENDE ARTIKEL

VORIGE ARTIKEL

KLANK

video

mEER inLIGTING

 

Wat is ’n groen gebou?

 

Hoewel kriteria vir groengeboue verskil, word daar oor die algemeen na die volgende gekyk:

 

  • Die gebruik van sonpanele
  • Beter insulasie wat minder energie laat ontsnap
  • Dakplante
  • Gevorderde ventilasie
  • Aangepaste beligting gebaseer op natuurlike lig
  • Waterbewaring
  • Gebou-oriëntasie teenoor die son, wat hitte en koue reguleer
  • Omgewingsvriendelike boumateriaal
  • Die gebruik van reënwaterstelsels
  • Slim verhitting- en verkoelingstelsels

 

NWU & U  |

NWU & U  |