Begin jou dag met ’n

cAPPuccino

Jou wekker lui. Jy trek aan, versorg jou gesin, drink vinnig ’n koppie koffie of tee, en weg is jy kampus toe. Oeps. Iets vergeet? Ja, jy moet die NWU se voorafsiftingsvrae op die app beantwoord.

 

Dis nou indien jy reeds die Covid-19-opleidingstoets op eFundi voltooi het.

 

Gaan na eFundi en teken in met jou personeelnommer en wagwoord deur op “Login” bo in die regterkantste hoek te klik. Jy sal dan die skakel na die Covid-19-opleiding vir diegene wat die NWU se kampusse moet betree in die “Message of the Day”-gedeelte op eFundi se landingsbladsy sien.

’n Voorwaarde vir die beantwoording van die app se vrae elke dag is dat jy eers 100% in die Covid-19-opleidingstoets moet behaal. Nadat jy die toets voltooi het (meer as een keer indien nodig) en volpunte behaal het, sal dit saam met jou naam en universiteitsnommer boaan jou voorafsiftingsvraelys verskyn.

 

Reg, noudat jy hierdie eerste mylpaal bereik het, kan jy jou daaglikse reis met die app hervat.

 

Hoe om toegang tot die app te kry

 

Hierdie aanlyn selfdoen-app, wat ’n span by IT ontwikkel het, kan op enige elektroniese toestel afgelaai word.

 

Om dit maklik in die hande te kry, gebruik ’n soekenjin (soos Google) om jou na die NWU se landingsblad te neem, waar jy in die regterkantste onderste hoek van die bladsy op DIY-dienste moet klik. Wanneer jy met jou universiteitsnommer en wagwoord op CAS ingeteken het, klik op die Covid-19-voorafsifting-ikoon. Dit sal jou eerstens na ’n vrywaringsbladsy toe neem, en dan na die daaglikse vraelys.

 

As jy glo dat ’n prentjie ’n duisend woorde werd is, klik hier vir ’n infografika oor hoe om op jou selfoon toegang tot die app te kry.

 

Sodra jy die vrae beantwoord het, stuur die app vir jou ’n e-pos en ’n SMS met óf ’n rooi óf ’n groen bewys, wat jy moet toon wanneer jy by die ingangshek op jou kampus aankom.

 

Wat die bewyse beteken

 

As jy ’n rooi bewys kry, beteken dit dat daar ’n risiko is dat jy Covid-19 opgedoen het. In hierdie geval kan jy dalk na die kampus se gesondheidsorgsentrum of na ’n ander mediese praktisyn van jou keuse verwys word, maar jy sal nie toegelaat word om die NWU op jou eie te betree nie.

 

As jy ’n groen bewys ontvang, beteken dit dat alles reg is. Jy sal toegelaat word om na ’n simptoomsiftingspunt by die toegangshek te beweeg, waar jou koors geneem sal word. Afhangend van jou liggaamstemperatuur, en as jy vooraf toestemming gekry het om terug te keer werk toe en jou personeelkaart vir toegang geaktiveer is, sal jy toegelaat word om na jou werkplek te gaan.

 

Wat van die privaatheid van inligting?

 

Deur die app se vrae te beantwoord, verskaf jy inligting wat vertroulik en persoonlik mag wees, maar jy kan verseker wees dat die NWU jou reg op privaatheid erken.

 

Die universiteit sal alle inligting ingevolge alle toepaslike wetgewing, insluitende alle Covid-19-spesifieke regulasies, respekteer en beskerm.

 

Wie het die app geskep?

 

’n Groep IT-kundiges, saam met ander NWU-rolspelers, het ongeveer vier weke lank die middernagtelike olie gebrand om hierdie app te skep.

 

Dit was egter nie hulle enigste taak nie. Hulle het terselfdertyd nog ’n app geskep wat die personeel van die kampusse se gesondheidsorgsentrums vir rekordhouding kan gebruik nadat hulle die personeellede of studente ondersoek het.

 

Klik hier om meer te lees oor hierdie reusetaak, wat met groot vasberadenheid en toewyding uitgevoer is.

 

 

 

 

 

Meer oor die app se vrae

 

Nadat jy toegang tot die app verkry het, sal jy vyf vrae moet antwoord oor jou gesondheid en vier oor jou onlangse kontakte en reisgeskiedenis en of jy positief getoets het vir Covid-19.

 

In die eerste deel moet jy aandui of jy simptome ervaar het soos koors of kouekoors, ’n gehoes, seer keel, kortasemigheid of probleme met asemhaling, of enige veranderings in jou vermoë om te kan proe of ruik.

 

Die tweede deel handel oor jou onlangse bewegings en vra of jy in nabye kontak was met iemand wat Covid-19 het, of jy van een provinsie (of land) na ’n ander gereis het, en of jy positief getoets het vir Covid-19.

 

Waarom die app nodig is

 

Die app is net nog ’n voorbeeld van hoe die NWU sy sorgsaamheidsetiek in aksie omskep. Ons stel die lewens van ons studente en personeel op prys, en wil hulle tydens die Covid-19-pandemie veilig hou.

 

Benewens ons opregte bekommernis oor ons mense, word ons ook deur die wet verplig om die verspreiding van, asook die moontlike blootstelling aan, Covid-19 te voorkom. Om dit te doen, het ons verskillende stappe wat ons volg:

 

  • Gee aan studente en personeellede die vermoë om ’n “voorafsifting” te doen voordat hulle die NWU besoek.
  • Verskaf sifting by die hekke van die NWU.
  • Maak seker dat almal op die NWU se kampusse maskers dra, sosiale distansiëring handhaaf en goeie higiënepraktyke volg.