>

>

LEES MEER

Wat in 2013 as ’n kortleerprogram met slegs sewe deelnemers begin het, het gegroei tot een van die NWU se vlagskipbemagtigingsinisiatiewe wat vroulike entrepreneurs regoor sentraal-Suid-Afrika bevoordeel.

 

Die Ondernemende Vroue-program – of EWP soos dit bekendstaan – behels dinamiese en innoverende samewerking tussen die NWU se bhive Ondernemingsontwikkelingsentrum (EDC) in Vanderbijlpark en Aequis Consulting Suid-Afrika.

 

Hierdie vennootskap het op 20 September sy vyfde verjaardag gevier tydens ’n glansryke galageleentheid wat by die Emerald Resort and Casino Hotel in Vanderbijlpark aangebied is. Tydens hierdie mylpaalgeleentheid het deelnemers van twee groepe van die EWP gegradueer, naamlik van die EWP Vanderbijlpark (2017) en EWP Sasolburg (2016). Laasgenoemde het die program se eerste uitbreiding buite Vanderbijlpark verteenwoordig, met die bedryfsreus, Sasol, wat as die hoofborg aangesluit het.

 

Bemagtig vroue in Sasolburg

 

Volgens dr Esmé Young van Sasol se kleinsake-ontwikkelingseenheid wil die Sasolburg-program vroue bemagtig in Sasolburg se Zamdela-township, waar meer as 115 000 mense woon.

 

Tydens haar toespraak het Esmé aangekondig dat die keuringsproses vir die tweede groep beginner- vroulike

entrepreneurs van dié gebied reeds plaasvind en dat befondsing vir ’n derde groep entrepreneurs verkry is.

 

Ontsluit die krag van potensiaal

 

In sy toespraak by die ete het prof Herman van der Merwe, Adjunkdekaan: Onderrig en Leer van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, gesê Suid-Afrikaanse vroue is steeds in die minderheid wanneer dit by entrepreneurskap kom, selfs al is meer as die helfte van die bevolking vroue.

 

“Hierdie program getuig egter daarvan dat die NWU nie net ’n verbintenis tot maatskaplike geregtigheid en die opheffing van die gemeenskap het nie, maar ook dat die instelling in die krag van potensiaal glo,” sê hy.

 

Netwerke is die kern van die saak

 

Behalwe dat die deelnemers hul sertifikate ontvang het en die geleentheid gekry het om hul sakemodelle voor te lê en met hoëvlakverteenwoordigers van besighede en die bedryf netwerke te vorm, is die NWU se Ondernemende Vroue-vereniging ook daar bekendgestel.

 

Hierdie vereniging sal uit program-alumni bestaan en as raadgewende en netwerkliggaam dien.

 

Die Ondernemende Vroue-program is ’n agt maande lange leerprogram waar ’n span ervare aanbieders uit die akademie en die sakesektor deelnemers op hul entrepreneursreise begelei.

Benut die krag van

Klik op die video’s hierbo om die deelnemers aan die Ondernemende Vroue-program wat onlangs gegradueer het, te ontmoet. Hulle is die groep van Vanderbijlpark (video links) en die groep van Sasolburg (video regs).