>

>

LEES MEER

Die NWU kondig met trots aan dat twee nuwe direkteure en ʼn bestuurder, almal met buitengewone prestasierekords en ervaring op hulle onderskeie gebiede, aangestel is.

 

Prof Fulufhelo Netswera is aangestel as die direkteur van die Skool vir Besigheid en Korporatiewe Bestuur, James Botha as die nuwe direkteur van Regsdienste, en Thoriso Maseng as direkteur van die Loopbaansentrum.

Fulufhelo bring sakevernuf en die akademie bymekaar

 

Met meer as 22 jaar ervaring in die hoëronderwys-, navorsing- en innovasiesektor bring Fulufhelo ’n skat van kennis na sy nuwe posisie as direkteur van die Skool vir Besigheid en Korporatiewe Bestuur.

 

Fulufhelo sê hy is opgewonde oor die nuwe pos wat hy sedert 1 November beklee. “Ek het ’n goeie begrip van wat vereis word om ’n suksesvolle skool te bedryf en ’n groep toekomstige leiers, akademici en burgerlikesamelewingsaktiviste te ontwikkel. Ek is vol vertroue dat ek en die lede van my fakulteit gesamentlik baie sal vermag.”

 

Voordat hy by die NWU aangesluit het, was Fulufhelo ’n adjunkdekaan by die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie. Hy dien ook as ’n medeprofessor in die Fakulteit Ekonomie en Finansies by die Tshwane Universiteit van Tegnologie, en as medeprofessor aan Uganda se Tegnologie en Bestuur-universiteit. Benewens sy akademiese en leierskapspligte is Fulufhelo steeds ’n aktiewe navorser.

 

 

 

Prof Fulufhelo Netswera is die nuwe direkteur van die Skool vir Besigheid en Korporatiewe Bestuur.

Integriteit en gehalte is James se prioriteite

 

James is vanaf 1 September as die nuwe direkteur van Regsdienste aangestel. Hy het voorheen as senior regsverteenwoordiger by die universiteit gewerk. “Toe ek hoor ek het die bevordering gekry, was ek só bly. Ek was altyd lojaal teenoor die universiteit en die bevordering is ’n droom wat waar geword het,” sê James.

 

Sy doelwit is om seker te maak dat die NWU se integriteit en gehalte van regsdienste van topgehalte is. “Ek sal ook seker maak dat ons regsdienste en kundigheid gebruik word om die verskillende kernfunksies van die instelling te bevorder en te ondersteun,” sê hy.

 

James het 22 jaar ervaring binne die regsektor sedert hy sy BLc LLB-graad aan die Universiteit van Pretoria en ʼn diploma in belasting aan die Universiteit van Johannesburg verwerf het. Nadat hy sy leerkontrak voltooi het en as prokureur gekwalifiseer het, het hy 15 jaar lank vir ’n regsfirma gewerk voordat hy in 2008 by die NWU aangesluit het.

James Botha is die nuwe direkteur van Regsdienste.

Thoriso gereed om die bedryfsvennootskap te versterk

 

Thoriso het op 2 Augustus by die NWU aangesluit as bestuurder van die Loopbaansentrum. “Ek beplan om met my rol die netwerke tussen die bedryf en akademici tot voordeel van die NWU-studente en hul aanstelbaarheid uit te brei.

 

"Ek sal ook poog om ’n kultuur van entrepreneurskap vir ons studente te vestig deur hulle te mentor en op te lei. Ek wil dit doen saam met bestaande ondernemings soos onder meer Enactus op al drie kampusse en die bhive Ontwikkelingsentrum, om meer sakelui te kry om ons studente te mentor en entrepreneurskap onder hulle te bevorder,” sê hy.

 

Thoriso voeg by dat hy baie opgewonde is om hierdie rol te vervul, aangesien dit hom in staat sal stel om ’n groot impak op ’n hele aantal jongmense te maak.

 

Met 14 jaar se ervaring bring Thoriso ’n indrukwekkende stel kwalifikasies na die NWU. Hy het in verskeie posisies by ’n aantal staatsentiteite en privaat organisasies gewerk. Voordat hy by die NWU aangesluit het, het hy as Konsultant: Organisasie-ontwikkelingspesialis vir Anglo American Platinum gewerk.

 

Hy het sy BComHons in bedryfs- en organisasiesielkunde aan Unisa verwerf en is tans besig om deur Unisa se Nagraadse Besigheidskool vir sy meestersgraad in sakeleierskap te studeer.

 

Thoriso Maseng is as bestuurder van die Loopbaansentrum aangestel.

Die NWU sien daarna uit om die voordeel te benut van die talente, toewyding en fokus wat Fulufhelo, James en Thoriso na hulle nuwe posisies bring.