Redaksioneel

KLIK OM MEER TE LEES

 Die sukses van die poeding lê in die proe

Die Engelse spreekwoord lui: The proof of the pudding lies in the tasting. Wel, dit geld ook as dit by navorsing kom.

 

Ek is seker daar is talle ingewikkelde maniere om die waarde van navorsing te meet, maar kom ons praat oor twee: normbepaling en nuttigheid.

 

Eerstens glo ek dat sukses oor die lang termyn bepaal kan word deur ’n leeftyd se navorsing te evalueer. Neem byvoorbeeld prof Melville Saayman en prof Alta Schutte, wat onlangs deur die Nasionale Wetenskap- en Tegnologieforum as uitstaande wetenskaplikes erken is toe hulle wat as die “Wetenskap-Oscars” bekend staan, ontvang het.

 

Tweedens moet navorsing nuttig wees – iets of iemand moet daarby baat, hetsy direk of indirek.

 

Soos Alta gesê het toe sy haar toekenning ontvang het: Op die ou einde is al wat saak maak dat ons bydraes tot die wetenskap ’n verskil maak.

 

Dit kan wees dat die navorsingsresultate die lewe of bestaan van mense, diere of die planeet verbeter. Dit kan ook wees dat die resultate ’n bydrae tot die wêreldwye kennisekonomie maak en die grondslag vir toekomstige nuttige navorsing vorm.

 

Dit is tog deur die navorsing van groot wetenskaplikes soos hierdie twee dat gewone mense bevoordeel moet word – byvoorbeeld deur nuwe kennis en insig te verkry. Melville en nog ’n navorser, prof Henri Bezuidenhout, deel ook hulle kundigheid met ons in twee Eish!-artikels. Die een gaan oor die invloed van terrorisme op toerisme, en die ander een oor kruiskulturele bewustheid en begrip.

 

Ek dink ons moet al ons NWU-navorsers hartlik bedank. Dankie dat julle lewens verbeter en gewone mense se begrip van die wonderlike wêreld om ons verryk. Die sukses van die poeding lê inderdaad in die proe daarvan.

 

Lekker lees!

 

 

>

>