Terrorisme

bedreig toerisme

Terrorisme is die grootste bedreiging wat die internasionale toerismesektor in die gesig staar, sê prof Melville Saayman van die navorsingseenheid Toerismenavorsing in Ekonomiese Omgewings en die Samelewing (TREES) in Potchefstroom.

Saoedi-Arabië, die Verenigde Arabiese Emirate en Bahrein het op 5 Junie bande met Katar verbreek en die land se steun aan ekstremistiese groepe as die rede aangegee. Dit sluit in dat Qatar Airways uit hulle lugruim verban is.

 

Die debat in die VSA oor die gebruik van skootrekenaars en ander elektroniese toestelle op kommersiële vlugte, en president Donald Trump se aandrang op ’n reisverbod vir Moslems wat vanaf sekere lande reis, kompliseer sake selfs verder.

 

“Dit kan nie meer beklemtoon word hoe erg die tallose terrorismeaanvalle regoor die wêreld die toerismesektor geraak het nie,” sê Melville. “Ons sal nie meer gaan waarheen ons gewoonlik gegaan het nie, ons sal nie dieselfde roetes gebruik nie, ons sal nie die plekke besoek wat ons vantevore graag besoek het nie. Van musiekuitvoerings tot restaurante – alles het teikens geword.”

 

Hy het uitgewys dat Afrika ook in gevaar is.

 

“Dit is nie net ISIS nie; dit is hulle ander affiliasies en soortgelyke ekstremistiese groepe soos Boko Haram wat kan veroorsaak dat lande soos Nigerië ernstige gevolge vir toerisme kan ervaar,” waarsku hy. “Beletsels soos die een wat op Katar en Quatar Airways opgelê is, dien as waarskuwing; ’n afskrikmiddel vir lande wat nie genoeg doen om terrorisme binne hulle grense hok te slaan nie. Die snelheid waarmee hierdie verbod plaasgevind het, maak die deur vir soortgelyke optrede oop.”

 

Dit is egter ’n hartseer toedrag van sake.

 

“’n Verbod soos hierdie straf die groter toerismebedryf en veral lande wat van toerisme afhanklik is. Dit is soos sanksies waar jy daardie mense straf wat dit die minste verdien. Op hierdie manier speel ons in die terroriste se hande.”

Prof Melville Saayman waarsku dat die onlangse verbod deur Saoedi-Arabië, die Verenigde Arabiese Emirate en Bahrain op Qatar Airways wat hulle lugruim gebruik, ’n groot bedreiging vir wêreldwye toerisme inhou.

>

>

LEES MEER