>

>

Beste kollega,

Boodskap van die

visekanselier

Ons het van die begin af besef dat die eerste maande van die implementering van die nuwe struktuur moeilik gaan wees. Waar ons reeds permanente aanstellings het, kan die situasie dalk makliker wees, maar in sommige gevalle, waar aanstellings nog gemaak moet word, is dinge steeds onseker.

 

Wees egter verseker dat ons dringend daaraan werk om al die poste so vinnig moontlik gevul te kry, soos julle in ons onlangse advertensie in die naweekkoerante kon sien.

 

Intussen is twee adjunk-visekanseliers aangestel, naamlik prof Nancy (Refilwe) Phaswana-Mafuya vir navorsing en innovasie en prof Robert Balfour vir onderrig en leer. Ons verwelkom hulle by ons span senior leiers.

 

Ons doelwit is om die regte mense aan te stel om ons goedgekeurde strategie vorentoe te dryf, en nie bloot om poste te vul nie.

 

Ek het groot empatie vir dié van julle wat deur die onsekerheid geraak word, maar ek het geen twyfel dat dit spoedig opgelos sal word nie. Ons nuwe strategie en die struktuur wat dit moontlik maak, is die hoekstene van ’n nuwe, positiewe era vir die NWU. Sonder hierdie strategie en struktuur sou ons rede gehad het om bekommerd te wees, maar dit is nie die geval nie.

 

Kom ons behou ons fokus in hierdie moeilike tye, wetende dat daar altyd die moontlikheid was dat dit ’n uitdagende tydperk sou wees.  Stel julle sienings openhartig op die forums wat deur julle bestuurders geskep word. Moenie aarsel nie. Onthou dat die groter prentjie een van hoop vir die toekoms en ’n verandering ten goede is.

 

Die NWU se droom is om ’n internasionaal-erkende universiteit in Afrika te wees, een wat deur maatskaplike responsiwiteit en betrokke vakkundigheid onderskei word. Ons kan hierdie universiteit wees en bou op die uitmuntende werk wat oor talle dekades gedoen is.

 

Ten slotte haal ek vir prof Linda du Plessis, ons nuwe adjunk-visekanselier verantwoordelik vir beplanning en vir die kampusbedrywighede in Vanderbijlpark, aan. Sy het onlangs gesê: “Ek glo vas dat ’n gedeelde droom individue motiveer om op ’n uitsonderlike manier bymekaar te kom om buitengewone resultate te behaal.”

 

Dit is bepaald ook my siening. Laat hierdie sentiment ons inspireer. Ons nuwe rigting is ’n bron van hoop. Die beste lê nog voor.