>

LEES MEER

>

Sak-projek laat

kleintjies glimlag

’n Personeellid by die NWU se Taaldirektoraat se missie is om ongebruikte konferensie- en skoolsakke aan kinders in die Ikageng-gemeenskap naby Potchefstroom te versprei.

Johan Zerwick, taalpraktisyn vir Setswana, sê niks kan die vreugde op die kinders se gesiggies beskryf wanneer hulle ’n skoolsak ontvang nie. “In die meeste gevalle gebruik hierdie kinders plastieksakke vir hul skool-benodigdhede. ’n Sak van goeie gehalte, nuut of tweedehands, maak ’n groot verskil in hulle lewens.”

 

Dit het alles in die kerk begin

 

Johan sê hy het die idee gekry om sakke bymekaar te maak terwyl hy aan ’n projek by sy kerk – die Duet-gemeente – gewerk het. “Die kerk het ’n projek wat ons #Impaksaam noem.

 

Die doel daarvan is om ou skoolsakke in te samel en dit aan behoeftige kinders te gee.

 

“Ek het besef dat talle akademiese en ondersteuningspersoneel van die NWU gereeld konferensies en werkswinkels bywoon en amper nooit die sakke en skryfbehoeftes gebruik wat hulle by daardie gebeurtenisse ontvang nie.”

 

Met die hulp van die NWU se Departement Korporatiewe Kommunikasie het hy dus ’n versoek aan personeel uitgestuur en vir skenkings van sulke sakke, notaboeke en penne gevra. “Die reaksie was oorweldigend en ons het tot dusver amper 250 sakke ontvang.”

’n Deurlopende projek

 

Die sakke word meestal aan laerskoolleerders gegee. “Konferensiesakke is perfek vir kinders wat nog nie baie boeke het om rond te dra nie. Ons probeer om die groter skoolsakke en -tasse te versprei aan hoërskoolleerders wat meer skoolboeke het.”

 

Johan vra personeellede om gereeld regdeur die jaar sakke te skenk. Hy wil die meeste van hierdie sakke volgende jaar in Januarie en Februarie versprei wanneer die skole begin. “Ons moedig personeel van elke kampus aan om voort te gaan om sakke en skryfbehoeftes te skenk. Met julle hulp kan dit dan in elkeen van hierdie woongebiede rondom die NWU-kampusse versprei word,” sê hy.

 

“Daardie sakke kan dalk net in julle pad wees en julle kantore vol lê, maar vir ’n behoeftige skoolkind is dit ’n gewaardeerde kleinood.”

 

Personeel wat graag skenkings wil maak, kan dit by die volgende kantore ingee:

Institusionele Kantoor – Johan Zerwick, C1-gebou, kantoor 236

Mahikeng – Mafumani Tlhapi, Robinson Room

Potchefstroom  – Vincent Eastes of Martie van der Merwe, kamer 116, eerste vloer, Joon van Rooy-gebou (F1)

Vanderbijlpark  – Annette Willemse, gebou 23, G14