'n Tapisserie van gebruike

Shahed Motara sê toktokkie was 'n lekker speletjie om tydens sy grootwordjare in Mohadin te speel. “Dit was vrolike, onskuldige pret wat die lewe vir my en my maats baie spesiaal gemaak het.”

In ons reeks artikels oor verskillende kulture en gebruike, vind Eish! meer uit oor die kinderspeletjie, toktokkie. Shahed Motara, senior interne ouditeur by die Institusionele Kantoor, onthou hoe hy as kind toktokkie gespeel het toe hy in die Indiërgemeenskap van Mohadin in Potchefstroom grootgeword het.

Toktokkie is 'n bekende speletjie in meeste kulture. Iemand, gewoonlik 'n kind, hardloop na die voordeur van 'n huis, klop aan die deur, en hardloop of kruip weg net voor die deur oopgemaak word. Shahed sê toktokkie, albasters, balspeletjies en wegkruipertjie was sy geliefkoosde speletjies in die middel-80's, toe kinders nog graag buite gespeel het en daar nog nie PlayStations of die internet was om hulle binne besig te hou nie.

Klop!

Klop!

>

>

Adrenalien en ondeundheid

 

“Daar is niks soos daardie opwelling van adrenalien wanneer jy sewe jaar oud is en vinnig genoeg probeer weghardloop om nie deur die vreemdeling, aan wie se deur jy pas geklop het, gevang te word nie.”

 

Shahed sê hy was deel van 'n groep van so 15 kinders, tussen die ouderdomme van sewe en 12, wat saam toktokkie gespeel het. Die algemene konsensus in die groep was dit hulle almal saam in die ding was.

 

As een van hulle uitgevang is, was die kans baie goed dat almal in die moeilikheid sou kom, en dit het net die speletjie nóg meer opwindend gemaak. As een begin hardloop het, het die res baie vinnig gevolg.

 

"Ons het meestal vroeg in die aand gespeel, net ná kerkskool en gebed. Ons het kattekwaad in die gees van onskuldige pret aangevang, en ek glo die gemeenskap het dit ook so ervaar. Ons was deel van 'n gemeenskap wat ons aanvaar het en vir ons lief was, en – hoewel daar seker soms 'n paar geïrriteerde grootmense was – het hulle geweet ons is maar net kinders wat speel.”

 

Elke speletjie het sy beserings

 

Pogings om vinnig weg te kom het soms bietjie skeefgeloop. “Ek het eenkeer weggehardloop en probeer om agter wasgoed op 'n draaiende wasgoedlyn weg te kruip. Toe ek my bene optrek sodat niemand my voete kan sien nie, gly my hande en ek slaan neer.” Shahed het nog steeds 'n ligte litteken op sy voorkop wat hom aan daardie dag se ongelukkie herinner.

 

'n Speletjie vir 'n ander era

 

Hy sê dit is hartseer dat toktokkie nie meer vandag, in 'n wêreld waar gevare om elke hoek skuil, so maklik gespeel kan word nie.

 

“Kinders sal verby hoë hekke, sekuriteitstrale, alarms en kwaai honde moet kom as hulle toktokkie wil speel. Daardie bordjies wat sê dat die eienaar gevaarliker as sy hond is, is ongelukkig ook soms waar.”

 

 

Hy glo toktokkie was so suksesvol as gevolg van die verrassingselement. “Mense het in die ou dae gehardloop om by die deur te kom as iemand klop, terwyl hulle deesdae nie meer so entoesiasties is nie. In daardie dae was 'n onaangekondigde besoek niks vreemds nie. Vandag sms of bel mens voor jy gaan kuier. 'n Onverwagse klop aan die deur wek vandag agterdog.”

 

Shahed is oortuig daarvan dat mense in sý kinderdae verwag het dat kinders ondeund sal wees. “Ek dink hulle het dit gesien as 'n teken dat ons gesond en gelukkig was.”

 

Sy herinneringe aan toktokkie sal hom altyd na aan die hart bly. “Ek dink mense onderskat die belangrikheid van speletjies. Ek glo dat dit universeel in alle kulture is – dit is belangrik om vrolik en sonder grense te kan speel.”