‘Ons sal met mekaar moet praat as ons blywende vrede wil hê’

beweeg af

 

 

 

Menseregtemaand is van 1 tot 31 Maart en Menseregtedag word op 21 Maart gevier. Die jaar 2016 is ʼn belangrike mylpaal vir menseregte in Suid-Afrika aangesien dit die 20ste herdenking van die Suid-Afrikaanse Grondwet is.

“Informele dialoog is dikwels van groter waarde as openbare debatte.”

Prof Willie Esterhuyse is onder meer bekend vir die deurslaggewende rol wat hy gespeel het met die fasilitering en voortsetting van dialoog tussen die ANC en die vorige regering om apartheid te beëindig en ʼn demokratiese, nierassige en nieseksistiese Suid-Afrika tot stand te bring. “Vergewe en vergeet werk nie in Suid-Afrika nie; ons moet onthou en vergewe as ons blywende vrede wil hê,” het hy tydens die openbare lesing in Potchefstroom gesê.

Die NWU, in vennootskap met die nasionale Departement van Kuns en Kultuur, het Menseregtemaand gevier met ʼn lesing deur die bekende akademikus en skrywer, prof Willie Esterhuyse.

 

Die openbare lesing is op 15 Maart in die sinodesaal in Potchefstroom gehou, en die boodskap in Willie se lesing was: “Ons moet met mekaar in gesprek tree as ons blywende vrede in Suid-Afrika wil hê.” Volgens hom is dit die doeltreffendste manier om wantroue, sosiale afstand en ekonomiese verdeeldheid te oorkom.

 

Elemente vir blywende vrede

 

Willie sê vrede is slegs blywend as ʼn land ʼn aanvaarbare lewenskwaliteit vir al sy burgers het. ʼn Sleutelelement hiervan is ook verdraagsaamheid. “Ek glo ons het al heelwat vordering gemaak danksy ons grondwet en die sosiale band tussen verskillende kulture en rasse.

 

“Onlangse navorsing van die Instituut vir Rasseverhoudinge het bevind dat 54% van die mense in Suid-Afrika glo dat rasseverhoudinge verbeter het. Dit is baie bemoedigend.”

 

Praat met mekaar

 

Willie sê hy weier om enige van die Suid-Afrikaanse bevolkingsgroepe as rassisties te etiketteer. “Die NWU moet ook nie toelaat dat etikettering binne universiteitsgeledere plaasvind nie.”

 

Oor die taalkwessie het hy gesê hy aanvaar nie dat taal as sodanig onderdrukkend kan wees nie; dit is die sprekers van ʼn taal wat onderdrukkend kan wees.

 

“Dit is nou belangriker as ooit vir burgers in Suid-Afrika om sosiale kohesie deur middel van interkulturele kontak te skep. Ons moet met mekaar praat oor die kwessies wat ons almal raak. “Ek glo dit is veral in klein groepe wat ons kan begin om ʼn verskil te maak en beter begrip te kweek."

 

Willie het al verskeie toekennings ontvang, insluitende die Stalsprys vir Filosofie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en die Sunday Times Prestige-prys vir politieke literatuur.

 

beweeg af

>

>