Eerstejaars arriveer by die dosyne

Vroeër vanjaar het duisende eerstejaarstudente hul akademiese loopbane afgeskop. Die NWU het vanjaar meer as 9 000 eerstejaar-kontakstudente verwelkom, met die Potchefstroomkampus wat hulle op 9 Januarie ontvang het, die Mafikengkampus op 18 Januarie en die Vaaldriehoekkampus op 30 Januarie.

“Verlede jaar was ʼn moeilike jaar vir alle universiteite in die land, en 2016 gaan waarskynlik ewe uitdagend wees. Maar dis die begin van ʼn wonderlike en belangrike deel van jou lewe,” het prof Dan Kgwadi, visekanselier, by die verwelkomingsgeleenthede gesê.

 

Hy het studente en hul ouers die versekering gegee dat die NWU – in die lig van verskeie uitdagings, insluitende finansies – omsigtig te werk sal gaan met beskikbare fondse en dat goeie korporatiewe bestuur die universiteit sal bly kenmerk.

 

“Jy kom universiteit toe om ʼn kwalifikasie te verwerf, maar ook om as mens te groei. Moenie bang wees vir diversiteit nie. Wees ontvanklik vir nuwe idees en kreatiewe maniere om ons land en al sy mense te dien. Wees positief en wees deel van die oplossings wat gevind moet word.”

>

>