Maart 2023

facebook
twitter
youtube
email
More research news
Terug
Volgende

Studie ondersoek die samesmeltings van hoëronderwysinstellings

'n Onlangse studie wat deur 'n PhD-gegradueerde en personeellid van die NWU Besigheidskool, dr Lungile Ntsizwane, uitgevoer is, het gekyk hoe om admini-stratiewe stelsels en prosesse tydens samesmeltings binne Suid-Afrikaanse hoëronderwysinstellings makliker te integreer.

Sy sê hoëronderwysinstellings gaan deur 'n ingewikkelde bestuursveranderings-proses wanneer hulle saamsmelt.

As gevolg van interne en eksterne kragte wat kolleges en universiteite vorm, aanvaar talle hoëronderwysinstellings samesmeltings as 'n radikale vorm van institusionele herstrukturering. In Suid-Afrika het samesmeltings van hoëronderwys-instellings na vore gekom as 'n poging om die hoëronderwyslandskap te transformeer deur segregasie uit te skakel en nuwe universiteite te skep om gelyke geleenthede aan almal te verskaf.

"Met 'n samesmelting word belangrike aspekte dikwels nagelaat, soos admini-stratiewe stelsels en prosesse wat aandag vereis vanaf die fase voordat samesmelting plaasvind. Samesmeltings is die ingewikkeldste en uitdagendste tipe verandering wat sterk leierskap, bestuur en 'n kommunikasie-ingesteldheid vra om dit te laat werk, veral wanneer vele instellings met verskillende kulture en verspreide geografiese liggings gekombineer word. Integrasie ná die samesmelting is die belangrikste fase in die bepaling van die sukses of mislukking van 'n samesmelting," sê dr Ntsizwane.

Haar mening oor die NWU-samesmelting

Sy het bevind dat die integrasie van die administratiewe stelsels en prosesse van die hoëronderwysinstellings tydens die NWU-samesmelting in 2004 in 'n sekere mate suksesvol was. Die meeste prosesse en stelsels het egter eers jare nadat die samesmelting plaasgevind het, geïntegreer geraak. Noemenswaardige werk moes eers gedoen word om te verseker dat die administratiewe stelsels en prosedures by die instelling se drie kampusse heeltemal geïntegreer word.

"Die bevindings het aspekte beklemtoon soos kommunikasie, weerstand teen verandering, kultuurverskille, die feit dat administratiewe personeel nie ingesluit is nie, en kwessies met mensehulpbronne soos personeel, opleiding, taal, verspreiding van hulpbronne en geografiese ligging, wat vanaf die tyd voor samesmelting in ag geneem moes word om sekere komplikasies in die samesmeltingsproses uit te skakel.

"'n Paar belangrike aspekte word regdeur 'n samesmeltingsproses nagelaat en ontvang slegs op 'n later stadium in die fase ná die samesmelting aandag. Indien die geïdentifiseerde aspekte vroeg in die beplanningsfase van die samesmelting aandag ontvang, kan die integrasie van die administratiewe stelsels en prosesse vinniger en sonder baie uitdagings plaasvind."

Insluiting van personeel is noodsaaklik

Dr Ntsizwane het gesê dat administrateurs aan die voorpunt van die universiteit se bedrywighede is en dat hulle insette dus noodsaaklik is om samesmeltings te laat slaag.

Om die pad vir toekomstige samesmeltings makliker te maak, het sy 'n integrerende administratiewe raamwerk vir die bestuur van samesmeltings in hoëronderwys-instellings ontwikkel. Die doel van die raamwerk is om riglyne aan opvoeding-stelsels te gee om die integrasie van administratiewe stelsels en prosesse deel van die samesmelting te maak. Dit is iets wat dikwels nagelaat word. Hoe vroeër hierdie dinge aandag ontvang, hoe beter is dit vir die sukses van die samesmelting.

immagine1

Dr Lungile Ntsizwane

Oor die navorser

Dr Lungile Ntsizwane het 'n BCom-graad in mensehulpbronbestuur en bedryfsielkunde, 'n honneursgraad in arbeidsbetrekkinge, 'n MCom en 'n PhD, alles van die NWU.

Haar loopbaan in die hoëronderwys-sektor strek oor 16 jaar.

Dr Ntsizwane het in 2006 as administratiewe assistent by die NWU begin werk en het in 2007 tot administratiewe beampte en in 2009 tot assistentprogrambestuurder gevorder. Sy is van 2014 tot 2021 as programbestuurder aangestel.

Dr Ntsizwane is tans die senior bestuurder vir akkreditasie en gehalte by die NWU Besigheidskool. Haar kundigheidsgebied sluit akademiese administrasie, programbestuur, gehalteversekering en akkreditasie in.

Sy verskaf leiding met pogings om akkreditasie, kurrikulumhersienings en gehalteversekering te verkry om te verseker dat daar aan die verskillende nasionale en internasionale akkrediterings-liggame se vereistes voldoen word.

socialmedia