Julie 2022

NWU doen navorsing wat relevant is

Welkom by die vierde uitgawe van die Noordwes-Universiteit se nuusbrief, Navorsing@NWU.

streetfood

NWU-navorsers toets medisinale plante
wat vir voorbehoeding gebruik word

Navorsers van die NWU en tradisionele gesondheids-praktisyns van die Noordwes provinsie ondersoek alternatiewe – die gebruik van medisinale plante – as voorbehoedmiddels vir vroue wat om gesondheids- of ander redes nie kommersiële voorbehoedmiddels kan gebruik, of nie toegang daartoe het nie.

Die projek is 'n samewerkingsinisiatief van talle belanghebbers wat deur dr Arthur Moroole, 'n postdoktorale navorsingsgenoot aan die NWU, onder mentorskap van prof Simeone Materechera en prof Oladapo Aremu van die Sentrum vir Inheemse Kennisstelsels (IKS), gelei word.

Die navorsing, wat die ondersoek en dokumentering van die moontlike gebruik van medisinale plante vir voorbehoeding behels, is in samewerking met 'n groep tradisionele gesondheidspraktisyns in die Ngaka Modiri Molema Distriksmunisipaliteit uitgevoer.

Dr Moroole het in sy navorsing 23 medisinale plante geïdentifiseer wat volgens verslae vir voorbehoeding in Suid-Afrika gebruik word. Hy het ook medisinale plante ondersoek wat spesifiek deur die Batswana in die Ngaka Modiri Molema Distriksmunisipaliteit gebruik word. Die ontleding en toetsing is met behulp van die NWU se Departement Chemie, die NWU Pharmacen™-navorsingsentiteit en die DWI/NWU Prekliniese Middelontwikkelingsplatform gedoen.

Plantgebaseerde voorbehoedmiddels as tee geneem

Die navorsing het getoon dat medisinale plante wat in die munisipaliteit vir voorbehoeding gebruik word meestal as tee gedrink word en van die ekstrak van 'n enkele plantspesie of verskeie plantspesies gemaak word en in kruiemengsels (konkoksies) gebruik word.

Een kruiemengsel, wat uit drie medisinale plante bestaan en mondeliks ingeneem word, is vir die ondersoek gekies. 'n Tradisionele gesondheidspraktisyn met kennis en ervaring van medisinale plante wat in die studiegebied vir voorbehoeding gebruik word, het met die insameling van die drie plantspesies gehelp.

Dr Moroole het die fitochemiese profiel van die kruiemengsel ondersoek deur moderne tegnieke van fitochemiese ontleding te gebruik. Daarna het hy die kruiemengsel op knaagdiere getoets.

Die ondersoeke het getoon dat die kruiemengsel bioaktiewe verbindings met voorbehoedende aktiwiteit het. Die mengsel het geen toksiese effek op selle gehad nie en die veiligheid daarvan was indrukwekkend, aangesien daar geen siektes of sterftes onder die toetsdiere voorgekom het nie.

Die kruiemengsel het egter 'n lae voorbehoedende doeltreffendheid getoon wanneer dit drie keer per dag vir drie agtereenvolgende dae mondeliks deur vroulike rotte ingeneem is. Dit toon aan dat dit meer as een keer per dag vir langer tydperke en teen hoër dosisse geneem moet word.

immagine1

Dr Arthur Moroole

Oor die navorser

Dr Moroole is tans 'n DWI/NNS-postdoktorale innovasie-navorsingsgenoot by die IKS-sentrum.

Sy postdoktorale navorsing fokus spesifiek op medisinale plante wat vir manlike voorbehoeding en vroulike noodvoorbehoeding gebruik word, en dié om 'n swangerskap te beëindig (vrugafdrywers).

Hy wil ook die uitwerking van hierdie plante op voort-plantingshormone en voortplantingsorgane vasstel soos dit deur laboratorium- en diere-eksperimente vasgestel kan word.

'n Ander gebied wat hy beplan om te ondersoek, is watter effek daar op die gehalte, veiligheid en doeltreffendheid van hierdie plante en hulle ekstrakte is wanneer dit gestoor of verpak word.

Tradisionele gesondheids-praktisyns speel 'n kritieke rol in die dokumentering, interpretering, verspreiding en aanwending van inheemse voorbehoeding.

Hy wil daarom hê dat tradisionele gesondheids-praktisyns wat aan die studie deelneem, ruim vergoed moet word, erkenning in navorsings-uitsette moet ontvang, en wetenskaplike kennis en vaardighede uit die projek moet verkry.

Hierdie resultate toon dat daar groot potensiaal is om veilige en doeltreffende kruie-voorbehoedmiddels van die natuurlike ekstrakte van plaaslike plante te ontwikkel. Dit kan daartoe lei dat daar alternatiewe voorbehoedmiddels kan wees vir vroue wat probleme ervaar met moderne voorbehoedmiddels of geen toegang daartoe het nie. Medisinale plantekstrakte wat geslagshormoonvlakke verlaag, is ook potensiële agense vir die ontdekking en ontwikkeling van hormoonvoorbehoedmiddels wat van kruie vervaardig word.

 TERUG:
Hoe die regulering van mobiele geld
finansiële insluiting 'n hupstoot kan gee
facebook
twitter
youtube
More research news

Deel asseblief jou kommentaar en insette deur 'n e-pos aan die nuusbriefredakteur, willie.duplessis@nwu.ac.za te stuur.