X

nuus

Dr Liqhwa Siziba (regs) is die ontvanger van die gesogte Toekenning vir Voortreflike Onderriguitnemendheid. By haar is prof Mashudu Maselesele, rektor van die Mafikengkampus.

NWU & U

 

Stuur gerus vir ons julle kommentaar, voorstelle en enige ander bydraes wat julle wil lewer, byvoorbeeld foto’s of nuusbrokkies.

 

Ons waardeer julle opinies en insette – die NWU & U behoort immers aan ons almal.

NWU vereer sy
beste dosente

ʼn Dosent van die NWU se Mafikengkampus het met die louere weggestap by die universiteit se jaarlikse Institusionele Toekenning vir Onderriguitnemendheid (ITOU)- seremonie.

Dr Liqhwa Siziba van die Fakulteit Geestes- en Sosiale Wetenskappe se eenheid vir akademiese geletterdheid was die wenner in die Toekenning vir Voortreflike Onderriguitnemendheid-kategorie. Sy is die eerste dosent van die Mafikengkampus wat hierdie prestasie behaal.

 

Die toekenningseremonie het op Vrydag 8 April tydens ʼn galadinee by Crista Galli in Potchefstroom plaasgevind.

 

Toekennings is in drie kategorieë gemaak, naamlik die Toekenning vir Opkomende Onderriguitnemendheid (TOOU), die Toekenning vir Onderriguitnemendheid (TOU) en die Toekenning vir Voortreflike Onderriguitnemendheid (TVOU).

 

Hierdie fakulteite het uitgeblink

 

Daar was 42 toekennings in totaal. Die fakulteit wat die meeste wenners opgelewer het, is die Fakulteit Ekonomiese Wetenskappe en Inligtingstegnologie op die Vaaldriehoekkampus, met ses wenners, gevolg deur die Potchefstroomkampus se Fakulteit Lettere en Wysbegeerte en die Fakulteit Opvoedingswetenskappe, met vyf wenners elk.

 

Die doel van die ITOU-toekennings

 

Die ITOU-toekennings gee erkenning aan uitnemendheid in die voorsiening van onderrig en leer. Die doelwit is om innoverende en uitstaande onderrig op al drie kampusse van die NWU te identifiseer en aan te moedig en dosente se bydraes tot studenteleer te vier.

 

Hoe dosente geëvalueer word

 

Deelnemers moet ʼn portefeulje indien as bewys van hul onderrig- en leeraktiwiteite en daar is ook waarneming van ten minste twee leergeleenthede waarvan één onaangekondig is.

 

 

 

Haar grootste beloning

 

Dr Liqhwa Siziba sê dis vir haar ʼn groot eer. “Ek het nie hierdie pad alleen gestap nie; ek het nog altyd baie mense se ondersteuning gehad. Ek is dank verskuldig aan my ouers, wonderlike professors, vriende en akademiese mentors. Aan almal wat my motiveer en ondersteun, ek salueer julle.”

 

Liqhwa sê die toekenning is ʼn herinnering om elke dag harder te werk en op haar studente se leerbehoeftes te fokus. “Dit is vir my ʼn eer om by ʼn klaskamer te kan instap en studente te inspireer om krities oor hul leefwêreld te begin dink.”

 

Hoewel dit wonderlik is om toekennings te ontvang, is dit vir haar ook al ʼn beloning op sigself om studente te kan help. “Ek is een van daardie gelukkige mense wat elke dag huis toe kan gaan met die wete dat ek ʼn verskil maak in my gemeenskap bloot deur ʼn opvoeder te wees. My grootste beloning is dat ek ʼn dosent mag wees.”

 

NWU & U  |

inhoud

beste dosente

inhoud

NWU & U