NWU is een van eerstes met aanlyn
Die NWU is een van die eerste instellings in die land om dissiplinêre verhore aanlyn te hou. Dit is gedoen in ooreenstemming met die tegniese oplossing wat deur die Suid-Afrikaanse howe uitgewerk is sodat hulle regdeur die pandemie kon werk.
Regsdienste op die Vanderbijlparkkampus was die eerste om geslaagde virtuele verhore vir oortredings ten opsigte van dwelmhandel en huishoudelike geweld, asook ’n koshuistribunaal, te hou.
Regsdienste op die Mahikengkampus het hulle voorbeeld gevolg. Hulle het onlangs twee virtuele verhore gehou wat bedrog, diefstal en vyf oortredings van die Covid-19-reëls hanteer het.
Al die dissiplinêre verhore word deur streng protokolle gereguleer wat aan die Grondwet van Suid-Afrika, die Wet op Hoër Onderwys, administratiefreg, en die NWU se Statuut en Reëls vir Studentedissipline voldoen.
Hierdie verhore word aangehoor deur ’n komitee wat uit twee interne assessors, ’n eksterne lid en ’n voorsitter bestaan.
Versekering dat alles glad verloop
“Hoewel almal die volle virtuele verrigtinge vanuit die gerief van hulle eie ruimtes kon betree, moes ons vooruit beplan en seker maak dat die verhore suksesvol verloop. Daar was op albei kampusse ruimte beskikbaar vir deelnemers wat konnektiwiteitsprobleme ervaar het,” sê Lucas Makoro, bestuurder en senior aanklaer by Studenteregsdienste.
Hy voeg by dat die departement sedertdien in kontak was met ’n aantal ander instellings wat die NWU vir normbepalingsdoeleindes gebruik.
Hoewel daar ’n paar uitdagings soos beurtkrag, konnektiwiteit en beskikbaarheid van data is, weeg die voordele van die aanlyn aanbieding van hierdie verrigtinge baie swaarder as die nadele. Die NWU sal voortgaan om meer virtuele verhore te hou.
Lucas het vir prof Linda du Plessis, die adjunk-visekanselier verantwoordelik vir beplanning en Vanderbijlparkkampus-bedrywighede, prof Marilyn Setlalentoa, adjunk-visekanselier vir gemeenskapsbetrokkenheid en Mahikengkampus-bedrywighede, die NWU se IT-departement en lede van die komitee bedank vir die rol wat hulle gespeel het om geskiedenis te maak.
DISSIPLINÊRE VERHORE
Lucas Makoro is die bestuurder en senior aanklaer by Studenteregsdienste.