van lelike eendjie tot prinses
Dit is die nuwe koppelvlak van die Referella-naslaanstelsel.
Referella, ʼn energieke en vrolike avatar, wil jou lewe makliker maak en jou wys hoe om ʼn kundige te word in alles wat met naslaanwerk te doen het.
NASLAANWERK
BY DIE NWU –
aangebied
deur Referella
Die span wat die ontwikkeling van die nuwe naslaaninstrument gelei het.
Prof Tobie van Dyk
Dr Kristien Andrianatos
Anneke Coetzee
Zander Janse van Rensbrug
Ons weet almal dat naslaanwerk ’n noodsaaklike deel is van die akademiese instrumente by die NWU om die integriteit van die universiteit se werk te verseker. Dit kan egter tydrowend en soms verwarrend wees, veral vir die personeel en studente wat minder ervaring het.
Wel, met die hulp van Referella, ʼn karakter wat deel van ʼn aanlyn naslaaninstrument is, is daardie dae van swoeg en sweet verby.
Danksy ’n gesamentlike poging tussen die personeel van die Akademiese Geletterdheid-vakgroep en die Biblioteek en Inligtingsdienste, is dit nou baie makliker om betroubare bronne te identifiseer, teks te parafraseer en aanhalings in teks en verwysingslyste korrek te gebruik.
Die katalisator wat die manier van naslaan verander het, is die nuwe, verbeterde NWU-naslaangids wat hersien en herontwerp is.
Referella – die “prinses” van naslaanwerk
Prof Tobie van Dyk, direkteur van die Skool vir Tale, sê die nuwe benadering om personeel en studente te ondersteun is meer as net ’n gids. Dit is ’n interaktiewe opvoedkundige instrument op ’n aanlyn platform wat dit baie meer opwindend maak om kwessies oor naslaanwerk te hanteer – baie makliker en selfs pret.
Die nuwe naslaaninstrument is ontwikkel nadat strategiese befondsing goedgekeur is.
Die span wat die ontwikkeling gelei het, sluit Tobie in, asook dr Kristien Andrianatos van die Sentrum vir Akademiese en Professionele Taalpraktyk, Anneke Coetzee van die Ferdinand Postma Biblioteek en Zander Janse van Rensburg, bestuurder van die Skryfsentrum.
Haal die angel uit naslaanwerk
“Niemand hoef meer op hul eie met naslaankwessies te sukkel nie,” sê Tobie, wat wil hê lesers moet Referella ontmoet. Sy is ’n lewendige en vriendelike avatar, en is ook gesaghebbend genoeg om te verseker dat studente verstaan hoe belangrik akkurate en geldige naslaanwerk is, en ten volle by die leerinhoud betrokke raak.
Referella, wie se naam ’n afleiding is van Cinderella (Aspoestertjie) – die karakter in die feëverhaal – verskyn in ’n aantal video's wat gebruikers deur elke stap van die naslaanproses lei. Een van haar belangrikste take is om gebruikers te leer hoe om plagiaat te vermy en die integriteit van hul harde werk te verseker.
Kristien verduidelik dat hierdie opvoedkundige video’s altyd aan oefeninge en ander rigtinggewende materiaal gekoppel is, sodat gebruikers gehelp word om kundig te raak in alles wat met naslaanwerk te doen het.
Gebruikersvriendelik vir maklike navigering
Zander is veral opgewonde oor die feit dat, hoewel die gids tans net in die aanlyn modus beskikbaar is, dit binnekort ook aflyn gebruik sal kan word.
Studente kan op ’n hele aantal toestelle – van rekenaars tot hul slimfone en tablette – direk na spesifieke naslaaninligting navigeer. Kristien sê hulle hoop vinniger toegang tot inligting sal daartoe lei dat studente die naslaanbeginsels getrou en korrek sal toepas.
Die hersiene naslaangids is in ’n baie gebruikersvriendelike LibGuide opgeneem, waar die studente maklik hul pad deur die duisternis onsekerhede oor naslaanwerk kan vind. Dit is hier beskikbaar.
Referella is handig vir dosente
Dosente kan ’n skakel na Referella op hul eFundi-webwerwe plaas.
Volgens dr Kristien Adrianatos ondersteun die gids selfgerigte leer.
Wanneer studente klik op die verwysingskakels wat as deel van die instruksies vir opdragte gegee word, kry hulle toegang tot al die verwysingsinligting wat hulle nodig het. Dit beteken dat dosente nie bykomende klastyd hoef te gebruik om studente oor verwysingsbeginsels in te lig nie.
Die volgende fase in die ontwikkeling van hierdie opwindende stelsel is die voltooiing van ’n onderrig-en-leer-platform, wat die span hoop om teen die einde van 2020 te voltooi.
Dié platform sal studente in staat stel om naslaankonsepte te oefen en hul verwysingsvaardighede in ’n veilige omgewing buite die inhoudsmodule te verbeter.
Referella sê korrekte verwysings toon nie net dat jy ’n eerlike persoon met integriteit is nie, maar verleen ook erns aan jou werk. Kyk na hierdie video om te sien wat Referella oor die Harvard-verwysingstyl te sê het.
Toegang tot ’n magdom hulpbronne
Personeel en studente het deur Referella toegang tot talle gerespekteerde verwysingsgidse.
Dit bevat die drie vernaamste verwysingstyle wat deur die NWU gebruik word: die NWU Harvard-, die NWU Fakulteit Regte- en die American Psychological Association-styl (APA-styl) (7de uitgawe), asook ander belangrike bronne en gidse.
Anneke Coetzee is entoesiasties oor die data wat reeds gegenereer is. Sy sê sedert Referella in Januarie vanjaar haar debuut gemaak het, het hulle nog net positiewe terugvoer van die personeel en studente gekry.
“Ons is so trots op hierdie nuwe stelsel. Ander instellings het ook al navraag gedoen oor die moontlikheid om Referella by ons te koop.”