>

LEES MEER

>

FOKUS OP

Tydens die MACE-werkswinkel het prof Melville Saayman gesê navorsers moet hul navorsingsuksesverhale aan ’n algemene gehoor vertel – nie net aan ’n akademiese gehoor nie. Dit kan op talle platforms gedoen word, insluitend sosiale media, webwerwe, radio, televisie en gedrukte media.

Akademici moet hul

NAVORSING DEEL

Prof Melville Saayman, direkteur van Toerismenavorsing in Ekonomiese Omgewings en die Samelewing (TREES) op die NWU se kampus in Potchefstroom, glo akademici moet hul navorsing met ’n wye gehoor deel.

 

Die verbintenis wat Melville en sy span het om hul navorsingsnuus deur die media te deel, plaas hom gereeld onder die NWU se topwoordvoerders. Hy het sy sienings oor die deel van navorsing verduidelik tydens die nasionale werkswinkel oor bemarking, bevordering en kommunikasie in onderwys (Marketing, Advancement and Communication in Education – MACE), wat in Mei in Potchefstroom plaasgevind het.

Melville sê dis nou belangriker as ooit tevore vir akademici om hul navorsing te deel. “Die akademiese lewe het die afgelope jare beduidend verander.

 

Ons as akademici staan voor nuwe uitdagings, nie net in ons navorsingsomgewings nie, maar ook omdat die media drasties verander het met die ontwikkeling van onder meer sosiale media, WiFi-tegnologie en digitale nuusplatforms. Dit is nuwe geleenthede om inligting te deel.”

 

V: Waarom is dit so belangrik om te deel?

A: As akademici die media doeltreffend gebruik, sal hulle hul navorsing bevorder en hulself as kundiges vestig.

 

“Wanneer akademici inligting deel, het dit nie net publisiteitswaarde nie, maar word dit ook as meer betroubaar as ’n advertensie beskou.” Hy sê dit sal fakulteite help om hulle personeel en eenhede of skole te posisioneer en ook help met die genereer van inkomste en die lok van topstudente, veral nagraadse studente.

 

“Daar is ’n magdom kennis beskikbaar, maar ongelukkig weet min mense daarvan.” Melville sê akademici moet besef dat universiteite sake-eenhede geword het. “Navorsing het noodsaaklik geword vir bevorderings-, kwaliteit- en mededingendheidsdoeleindes. Dit dra ook tot die status en posisionering van die universiteit en tot die Nasionale Navorsingstigting se gradering van navorsers by.”

 

V: Maar as ons die magdom inligting en voordele van deel in ag neem, waarom is sommige navorsers nie gretig om dit te doen nie?

A: Melville sê navorsing het getoon hul redes is hoofsaaklik tydsbeperkinge en ’n gebrek aan kennis oor hoe om populêre artikels te skryf. Sommige navorsers voel ook dit is nie hulle taak om te deel nie, en dat die publiek dit nie interessant sal vind of daarby sal baat nie.

 

V: Hoe kry ons hulle sover om te deel?

A: Melville glo daaraan om deur sy voorbeeld te lei, en dit is waarom hy aktief betrokke is om bewustheid onder sy personeel te skep. “Jy moet hulle laat verstaan dat daar ’n mark vir hulle navorsing is.”

 

Dit is belangrik om die motivering van personeel deel van jou strategiese plan te maak. “Maak dit ook deel die van bonuskriteria en lig personeel weekliks oor mediadekking in. Sodra hulle sien hulle navorsing is in die kollig, raak hulle meer entoesiasties.” Hy sê dit sal ’n gesonde mededingende omgewing skep.

 

Dit is ook belangrik om personeel tydens werkswinkels en konferensies te leer hoe om populêre artikels te skryf.

 

Daar is hulp vir akademici wat lugtig is om pen op papier te sit om nie-akademiese artikels te skryf. Universiteitsjoernaliste, ander joernaliste en interns kan akademici ook help om die boodskap van uitnemende navorsing by ’n wyer gehoor uit te kry.

 

“Nooi lede van die media na geleenthede. Sodra jy weet wie die joernaliste is, sal dit makliker wees om vir hulle nuuswenke te gee. Skep ’n vennootskap tussen jou en die media.”

 

Hy sê wanneer navorsers se eerste artikels gepubliseer word, is dit belangrik om nie op hulle louere te rus nie. “Behou jou teenwoordigheid in die media, en onthou dat dit ’n aanhoudende proses is.”

 

Melville sê dis op die ou einde tot almal se voordeel. “Die oorvertel van jou storie kan ’n groter positiewe impak op jou navorsing hê as wat jy dink. Dit kan ook ander navorsingsmoontlikhede blootlê en die weg baan vir samewerking met universiteite regoor die wêreld.”