>

LEES MEER

>

Prof Kobus van der Walt sê talle mense het hom bedank omdat hy nooit van sy geloof afgewyk het toe hy Omgewingspraatjies aangebied het nie. “As gelowige is ek optimisties oor die toekoms en opgewonde oor al die nuwe tegnologie wat die wêreld sal verander. Ons moet op God vertrou en nie moedeloos word nie.”

Saterdagoggende gaan nie meer heeltemal dieselfde wees nie. Vir byna ’n dekade was prof Kobus van der Walt die kundige stem agter die baie gewilde weeklikse omgewingsprogram, Omgewingspraatjies, op Radio Sonder Grense (RSG). Hy kon dit altyd regkry om radioluisteraars met sy skerpsinnigheid en wysheid op te voed, in te lig en te vermaak.

Kundige sê vaarwel
aan gewilde radioprogram

As baie gewilde aanbieder het Kobus meer as 15 000 volgelinge op sy Facebook-blad gehad en ook ’n boek geskryf wat op die radioprogram gegrond is. Hy het verlede jaar in November besluit om Omgewingspraatjies vaarwel te roep en het met Eish! oor sy betrokkenheid by die program gepraat.

“As daar een ding is waaroor die meeste mense besorgd is wat die omgewing betref, is dit wat die toekoms vir hul kinders en kleinkinders inhou. Hulle is bekommerd oor hoe hul geliefdes sal oorleef, omdat die omgewing tans onder geweldige druk is en sy natuurlike hulpbronne teen ’n verstommende tempo uitgeput word.”

 

Hy het tydens sy betrokkenheid by die program tienduisende briewe en e-posse gekry van mense wat sy passie vir die omgewing deel. “Ek waardeer al die kommentaar, en elke vraag en bespreking. Die luisteraars van Omgewingspraatjies was onderhoudend en kundig en die gehalte van die besprekings was altyd indrukwekkend.”

 

Die program het hom ietwat van ’n beroemde gemaak, en sy gewildheid het tot optredes regoor Suid-Afrika gelei.

 

 

 

 

Talle kerke, boere, direksies van maatskappye en die Suid-Afrikaanse Vroue Landbou-unie het hom al genooi om by funksies, vergaderings en geleenthede op te tree en te praat oor onderwerpe wat van reënval tot besoedeling gewissel het.

 

’n Laaste woord…

 

Kobus sê as hy ’n laaste boodskap aan die luisteraars van Omgewingspraatjies kan gee, sal dit wees dat hulle verantwoordelik moet bly en altyd nadink oor die impak wat die dinge wat hulle doen op ons omgewing het.

 

“Ons kan almal ons deeltjie doen om ’n positiewe verskil te maak. Deur iets kleins te doen soos om die ligte af te skakel wat onnodig brand, lewer ons reeds ’n positiewe bydrae tot die bewaring van die omgewing.”

 

 

 

Juaneé volg in Kobus se voetspore

 

Prof Juaneé Cilliers, dosent by en voorsitter van Stads- en Streeksbeplanning, neem die leisels by haar kollega, Kobus, oor.

 

“Ek voel geëerd en dankbaar dat Kobus vir my die geleentheid gee om met Omgewingspraatjies voort te gaan. Ek besef ek het ’n groot plek om vol te staan, maar ek is baie opgewonde oor hierdie nuwe pad.”

 

Sy ken Kobus reeds van haar studentedae af – hy was 16 jaar gelede haar geografiedosent. “Hy is werklik iemand om na op te kyk. Kobus is ’n ware mentor en uitstekende voorbeeld van iemand wat lief is vir sy werk, vir mense en vir die omgewing.”

Juaneé sê Omgewingspraatjies gee aan die NWU die kans om navorsing en kundigheid met die publiek te deel en ’n bewustheid te skep vir noodsaaklike kwessies wat die omgewing raak. “Die program se Facebook-blad bring vriende van die omgewing byeen. Dit is wonderlik om te sien hoe entoesiasties en professioneel hulle met mekaar oor belangrike onderwerpe gesels.”

 

Prof Juaneé Cilliers sê dis ’n eer om deel van hierdie program te wees en sy is bly haar kollegas, studente, vriende en familie sal haar op haar nuwe pad as radio-aanbieder ondersteun.