>

>

LEES MEER

Wanneer perd en  ruiter een word

 

 

 

 

 

 

 

Begin op ’n drafstap

Die Fauresmith Internasionale Uithourit word as een van die moeilikstes ter wêreld beskou. Die rit het in 1964 begin toe die immergroengesag oor alles wat met landbou te doen het, die Landbouweekblad, die vraag gevra het: Watter perderas het die beste uithouvermoë? In 1965 is die rit van Hanover na De Aar gehou met ’n Arabierperd wat die wenner was.

 

Die volgende rit het in 1973 in Fauresmith plaasgevind, aangesien die koue nagte en matige Julie-dae ideaal vir uithouritte is. Tydens die 1973-rit het net 17 ruiters deelgeneem, maar sedertdien het die getal aangegroei totdat daar in 2017 amper 400 deelnemers was.

Die dag breek oor die Vrystaatse horison en stuur ligstrale ver die toekoms in. ’n Koel, sagte briesie lig die haarlok wat onder haar helm uitkruip. Gretha Botha maak haar oë ’n oomblik toe en trek die fris oggendlug diep in haar longe in terwyl sy ’n oomblik nadink.

 

Die rit lê voor. Die natuurskoon glip verby, en die ritmiese geklop van vier hoewe klink op die stofpad op. Haar merrie, Ras-el-Bandar Nerina, galop verby die bleek gras en verbleikte doringbome van die winterlandskap. Perd en ruiter is een.

 

Sowat 20 km verder wag hulle eindbestemming – die skouterrein op die buitewyke van Fauresmith. Perd en ruiter het drie dae lank oor ’n afstand van 201 km saam geswoeg en saam die uitdaging aangepak om hulself tot die uiterste toe te dryf. Hulle is egter nog nie heeltemal daar nie.

 

Pak die laaste pylvak aan

Gretha en Nerina se pas versnel. Dit is die laaste pylvak van die Fauresmith-uithourit. Sy dink aan haar seuns, James en Heinrich, wat vir haar wag. Hulle is onderskeidelik 14 en 13 jaar oud en het hulle ma se liefde vir perde geërf. “Dit is so lekker dat hulle gemaklik is met perde,” sê sy.

 

Haar eie passie vir perde kom uit haar kinderjare en is in 2009 weer aangevuur toe sy Potchefstroom toe getrek het. Sy is in 2013 as kontrak- en intellektuele eiendomsbestuurder by die NWU se Kantoor vir Tegnologie-oordrag en Innovasiesteun aangestel.

 

Sweet pêrel op haar gesig, maar haar fokus bly doelgerig. “Jy moet fiks wees, want jou fiksheidsvlakke beïnvloed die prestasie van die perd. Net die geringe verskuiwing van jou gewig het ’n geweldige invloed op die perd.” Sy bly fiks deur strawwe oefening (cross training) en deur kilometers op haar fiets en in die swembad af te lê. “Die belangrikste ding is om geestelik fiks te wees en gefokus te bly.”

 

Beter as toekennings

Gretha het hierdie jaar vir die vierde keer aan hierdie rit deelgeneem. “Ons het in 2016 onder die top 10 ruiters geëindig, en hierdie jaar het ons 13de gekom. As hierdie gogga mens eers gebyt het en jy aan uithouritte deelneem, kan jy nie ophou nie.”

 

Gretha het reeds twee keer nasionale kleure verwerf, maar vir haar gaan die rit oor meer as net die toekennings. “’n Onbreekbare band vorm tussen jou en jou perd. Hulle is baie sensitiewe diere, en ook hoogs intelligent. Dit is wonderlik om te dink dat ’n dier wat 450 kg weeg jou op haar rug kan toelaat. Hulle het elkeen ’n unieke persoonlikheid en kan soms nes stout kinders wees.”

 

’n Pragtige band

Die band tussen mens en perd is onbeskryflik. “Daar is klein oomblikke wat jy aan niemand kan verduidelik nie. Daar is vryheid en ʼn ongelooflike gevoel wanneer jy en jou perd as een wese dink en beweeg – met mekaar saamwerk, mekaar respekteer en eer. Daar is oorvloedige genade.”

 

Tydens die Fauresmith-rit ondersoek ’n veearts elke 25 km die perde om vas te stel of hulle gesond en fiks genoeg is om voort te gaan.

 

Met die laaste kontrolepunt agter haar, konsentreer Gretha nou om die rit te voltooi. Om klaar te maak, is om te wen, glo sy.

 

Wanneer sy die wenstreep in die oog kry, versnel Gretha se hartklop. Sy kan die temalied van die fliek Chariots of Fire hoor wat gespeel word vir elke ruiter wat die skouterrein binnekom. Sy sien haar versorgingspan: haar verloofde, Deon Duvenhage, perde-afrigter Thinus Sonnekus, veearts dr Jesse Jones, en James en Heinrich.

 

’n Glimlag breek oor haar gesig. Wanneer sy oor die wenstreep gly, glimlag sy van oor tot oor.