>

>

BESTE KOLLEGA,

Boodskap van die

ViSEKANSELIER

Wanneer jy hierdie boodskap lees, het die nuwe semester reeds weer begin. Voordat jy jou oë uitvee, moet ons aandag aan eksamenskrifte gee en punte finaliseer.

Maar nou moet talle van julle eers aan ons nuwe rapporteringslyne gewoond raak, hetsy dit ’n nuwe toesighouer, bestuurder, direkteur, uitvoerende dekaan, of adjunkdekaan is. Die aanstelling van nog (akademiese) direkteurs en adjunkdirekteurs sal spoedig volg.

Kortom, jy sal met ’n paar nuwe (dalk tydelike) uitdagings te doen kry terwyl jy al die normale akademiese of administratiewe werk moet hanteer. Ek waardeer dit en bedank jou dat jy die omstandighede in ’n goeie gees aanvaar.

 

Soos sommige van julle dalk in ’n videoboodskap van prof Fika Janse van Rensburg, die adjunkvisekanselier op die Potchefstroomkampus en die NWU se adjunkhoof, gesien het, het my kantoor na gebou F1 verskuif. Dieselfde geld vir die registrateur, prof Marlene Verhoef. Dit is simbolies van ons wegbeweeg van ’n “federale” model met drie kampusse en ’n “hoofkantoor” (of Institusionele Kantoor wat in C1 geleë was).

 

Die nuwe uitvoerende direkteur vir studentelewe, prof Lumkile Lalendle, sal mettertyd daar by ons aansluit. Met twee adjunkvisekanseliers in C1 (wat nou nie meer die Institusionele Kantoor is nie) en adjunkvisekanseliers en dekane wat oor al drie kampusse versprei is, het ons ons senior bestuur effektief gedesentraliseer.

 

Die bewering dat ons die bestuur gesentraliseer het, is dus verkeerd, maar dit is beslis so dat kampusse nie meer besigheidseenhede is nie. Ons agt fakulteite, wat deur uitvoerende dekane gelei word, sal nou die hart van ons universiteit wees.

 

Ons hoop om in die res van die jaar permanente aanstellings in die oorblywende vakante senior poste te maak. Intussen sal waarnemende dekane en adjunkvisekanseliers sorg dat sake vlot verloop. Daarvoor sê ek baie dankie.