Prof Alfred Henrico, dosent in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe op die NWU se kampus in Potchefstroom, het die Toekenning vir Uitsonderlike Onderriguitnemendheid (TUOU) gewen.

Topdosent gee

oor lesingtegnieke

8 WENKE

Hierdie jaar se wenner van die toptoekenning in die NWU se Institusionele Toekennings vir Onderriguitnemendheid (ITOU), prof Alfred Henrico, weet hoe om studente geïnteresseerd te hou wanneer hy klasgee. Eish! het hom uitgevra oor die belangrikste dinge om in gedagte te hou wanneer dit by onderrig kom.

Alfred sê toe hy ses jaar gelede by die Skool vir Ondernemingsbestuur aangestel is, het hy onmiddellik besef dat ’n mens nie ’n doeltreffende dosent is as jy bloot kennis oor onderrig het nie.

 

“Ek het byvoorbeeld geweet groepwerk is belangrik vir die ontwikkeling van verskillende vaardighede by studente, maar ek het nie geweet hoe om dit doeltreffend met groot groepe van 200 of meer studente reg te kry nie.”

 

Dit is hoekom Alfred begin het om oor verskillende onderrigmetodes en -strategieë te lees. Hy het ook onderrig-en-leer-werkswinkels en kontaklesings van verskeie kollegas in verskillende fakulteite bygewoon. Op grond van die kennis wat hy uiteindelik opgedoen het, het hy begin om sy eie onderrigbenadering te vorm soos dit hier langsaan uiteengesit word. (Klik op elke sin om meer te lees.)

  • 1. Laat die studente vroeg begin werk

    Laat die studente met hul akademiese werk begin sodra die semester begin, selfs voordat hulle hul handboeke of studiegidse ontvang het. Gee altyd vir studente opdragte wat hulle op die internet of in die biblioteek kan navors. Die opdragte moet dan tydens die volgende kontakgeleentheid vir assessering ingegee word. Dit gebeur alles tydens die eerste week van klasbywoning. Hierdie benadering motiveer studente om kontakgeleenthede by te woon en hulle besef dat hulle ’n bydrae moet lewer en hard moet werk in die module.

  • 2. Maak gebruik van tegnologie

    Ontwikkel kreatiewe lesse en gebruik tegnologie. Deur gevallestudies op video en elektroniese verduidelikings van vakinhoud in die klaskamer te gebruik, ontwikkel studente die visuele en ouditiewe vaardighede wat hulle nodig het om in die professionele wêreld te funksioneer.

  • 3. Waardeer studente se pogings

    Toon waardering vir studente se pogings, aangesien dit hulle sal motiveer en aanmoedig om selfs meer by die module betrokke te raak.

  • 4. Skep die geleentheid vir kreatiwiteit

    Gee aan studente die geleentheid om kreatief te wees, aangesien studente van nature kreatief is. Moedig altyd hul kreatiwiteit aan deur breë riglyne vir opdragte te gee en aan hulle die vryheid te gee om binne die vlak van kompleksiteit van die onderwerp kreatief te wees.

  • 5. Wees entoesiasties oor die module en onderrig

    Wend ’n poging aan om entoesiasties oor die module en oor onderrig te wees. Deur entoesiasties te wees kan ’n mens ook die studente se entoesiasme vir die module aanmoedig.

  • 6. Maak dit vir hulle lekker

    Maak dit vir hulle lekker om die module te bemeester, wees vriendelik en trek altyd ’n verband tussen die teorie en die praktyk. In die studiegebied van ondernemingsbestuur het sakepraktyk bestaan lank voordat enige handboeke vir studie beskikbaar was. Aangesien handboeke basies verskillende teorie-gebaseerde sakeprosesse in skriftelike vorm is, kan alle teorie op een of ander manier met die praktyk verband hou. Lei dus die studente om daardie verband raak te sien.

  • 7. Ontwikkel hul denkvaardighede

    Fokus jou onderrig op die ontwikkeling van die student se denkvaardighede, aangesien hierdie vaardighede hulle in staat sal stel om doeltreffender in die werksomgewing te funksioneer. Denkvaardighede sluit breedweg probleemoplossing en kritiese en kreatiewe denke in.

  • 8. Skep ’n leeromgewing

    Fokus laastens op ’n leeromgewing  waar studente meer leer as wat hulle besef.

>

LEES MEER

>