>

>

FOKUS

OP

  • Klik om meer te lees >>
    Die Transforming Encounters-navorsingsgroep van die Skool vir Filosofie op die NWU se kampus in Potchefstroom skep geleenthede om vooroordeel af te breek, ruimte vir gesprek te skep en die manier waarop mense dink, te verander. Hulle bied ook aan personeellede die geleentheid om by aktuele kwessies betrokke te raak. Eish! het met dr Justin Sands, prof Anné Verhoef en Zander Janse van Rensburg oor hierdie inisiatief gesels.
Verander die manier 
waarop ons mekaar sien

V: Wat is Transforming Encounters?

A: Transforming Encounters is ’n navorsingsgroep wat onlangs binne die Skool vir Filosofie gestig is. Die huidige kernlede is prof Anné Verhoef, dr Justin Sands en Danelle Fourie, almal van die Skool vir Filosofie in die Fakulteit Geesteswetenskappe. Zander Janse van Rensburg, bestuurder van die Skryflaboratorium op die kampus in Potchefstroom, is ’n nagraadse lid en navorser.

 

Ons doelwit is om ruimte vir dialoog te skep en terselfdertyd aan filosofiestudente die geleentheid te gee om met navorsing in filosofie voort te gaan om ’n beter begrip tussen mense van uiteenlopende agtergronde te bevorder. Dit word deur tematiese gespreksgeleenthede en vergaderings gedoen

 

V: Wat is die doel van die geleenthede?

A: Betekenisvolle interaksie wat ’n beter begrip tussen mense skep, is noodsaaklik in die diverse gemeenskappe waarin ons leef, internasionaal sowel as plaaslik. Ons doelwit is om mense by gesprekke rondom diversiteit betrokke te kry.

 

V: Watter besprekings het al plaasgevind?

A: Ons eerste gespreksgeleentheid was “A Transforming Encounters Diversity Panel: Women in Academia”, en die hooftema was om steun, leiding en praktiese advies aan jong en belowende vroulike akademici te bied. Hulle het ook die geleentheid gehad om hulle ervarings te deel. Die geleentheid het op 28 April by die NWU Galery plaasgevind. Meer as 50 mense, wat personeel en studente insluit, was teenwoordig. Hoewel dit ’n eenmalige gebeurtenis was, sal ons graag meer paneelbesprekings wil hê as ons die nodige fondse kan kry.

 

V: Wie is by die geleenthede betrokke?

A: Transforming Encounters bou netwerke deur verskillende samewerkers van internasionale en nasionale netwerke bymekaar te bring. Ons skep dan diversiteitspanele rondom ’n bepaalde tema om die kundigheid van die samewerkers te ontgin.

 

Paneellede praat oor kwessies wat nie net teoreties is nie, maar ook prakties. Met ander woorde dit is nie net “praat omdat praat praat is” nie; hulle bied raad oor kwessies wat in die werklike wêreld ervaar word.

 

Ons betrek kundige gassprekers van regoor die wêreld. ’n Voorbeeld hiervan was toe dr Amber Griffioen van die Universiteit van Konstanz in Duitsland ons vir ses weke lank besoek het. Danelle het deur haar betrokkenheid die diversiteitspaneel georganiseer. Ons het ook onder andere personeellede en voorgraadse en doktorale studente gehad wat deelgeneem het.

 

V: Wat het die deelnemers oor die diversiteitspaneel te sê gehad?

A: Sommige studente en dosente het gesê hulle kry nie dikwels genoeg die geleentheid om op só ’n platform hulle bekommernisse uit te spreek nie. Hulle het bemoedig en bemagtig gevoel.

 

V: Watter ander besprekings het plaasgevind?

A: Ons het onlangs ’n Transforming Encounter gehad oor die tema van hoe die media Islam uitbeeld. Die debat was baie insiggewend en het vooroordeel en benadeling uitgewys wanneer Westerse media oor Moslems berig.

 

V: Wanneer sal die volgende Transforming Encounters-gebeurtenis plaasvind?

A: Afhangend van befondsing wil ons nog ’n gespreksgeleentheid in Augustus hierdie jaar aanbied. Ons wil daardie bespreking op die dekolonisering en Afrikanisering van die universiteitskurrikulum laat fokus. Ons glo dit is ’n aktuele kwessie wat debat sal aanmoedig

 

Vir meer inligting oor Transforming Encounters, stuur ’n e-pos aan prof Anné Verhoef by anne.verhoef@nwu.ac.za, dr Justin Sands by justin.sands@nwu.ac.za of Danelle Fourie by danelle.fourie@gmail.com of 22870644@nwu.ac.za.