>

>

Boodskap van die

Visekanselier

beste kollega,

Die besluit van die Raad op Hoër Onderwys (RHO) om ons kennis te gee oor ons LLB-program, was vir baie mense ’n skok. Nadat hierdie aankondiging gemaak is, is daar vrae soos die volgende gevra: Was ons nie ’n toonaangewende voorsiener van LLB-graduandi oor baie jare nie? Kan die akademiese kwaliteit van ons program regtig bevraagteken word? Is dit nie ’n politieke streek nie?

 

Om die RHO se kennisgewing te verstaan, moet ons ’n basiese idee verstaan, naamlik dat transformasie nie afsonderlik van kwaliteit beskou moet word nie.

 

Kom ek stel dit effens anders om die punt te beklemtoon: die gehalte van universiteitsprogramme word nie op “suiwer akademiese” gronde bepaal nie.

 

Die kriteria sluit in die mate waarin ’n program ’n bevorderlike, billike tuiste vir al sy studente verskaf. As dit nie bereik word nie, kan ’n program kennis gegee word.

 

Ons kon vreeslik beswaar gemaak het en gesê het ons bied ’n topgehalte LLB-program aan en het alumni in alle sfere van die regswêreld. Ons kon die verslag op verskeie gronde beveg het. Ek het dit egter wys geag om die hou op die ken te vat, en eerder daarop te fokus om dinge reg te stel wat as problematies uitgewys is.

 

Gelukkig het die Noordwes-Universiteit reeds ’n sterk transformasie-agenda. Ons weet ons het tekortkominge en het juis daarom ’n nuwe strategie, struktuur en Statuut aanvaar om ons te lei en te inspireer.

 

In die lig hiervan doen ek ’n beroep op alle personeel om die redenasie agter die nuwe strategie en struktuur te verstaan en om die implementering daarvan heelhartig te ondersteun. As deel van die proses moet ons ernstige introspeksie doen en die inisiatief neem om vinnig na ’n hernuwing van ons institusionele kultuur (insluitende ons taalpraktyke) te beweeg. Dit geld vir alle vakgroepe, skole en fakulteite.

 

Die oomblik wat ons onsself as dienaars van die hele universiteit begin sien, hetsy dit in ’n onderrig-, navorsings- of ondersteuningskapasiteit is, sal ons kollegas en studente van ander kampusse by ons gedagtes en praktyke insluit.

 

Wanneer ons met ’n ondersteunende, samewerkende gees mekaar raadpleeg en saam beplan, sal ons die NWU in ’n eenheidsuniversiteit omskep waar gelykheid, uitnemendheid en sorg vanselfsprekend is. Op daardie tydstip sal ons ware gehalte bereik het, en niks hê waaroor ons bevrees hoef te wees nie.