Boodskap van die

Visekanselier

beste kollegas,

beweeg af

>

>

Die goeie vordering wat tot dusver met die moeilike taak van herstrukturering van die NWU gemaak is, is te danke aan konstruktiewe spanwerk. Hierdie werk modelleer die soort gedrag wat in die toekoms deur ons nuwe bedryfsmodel vereis gaan word.

 

Mens kan nooit die rol van toegewyde individue oorskat in die voortdurende strewe na ons droom om 'n internasionaal erkende universiteit in Afrika te wees wat bekend is vir betrokke wetenskapsbeoefening, maatskaplike responsiwiteit en 'n sorgsaamheidsetiek nie.

 

Sulke individue werk gewoonlik ongesiens en sonder veel erkenning agter die skerms. Maar dan is daar geleenthede waartydens hulle wel met reg erken word. Wanneer hierdie erkenning boonop van 'n nasionale liggaam kom, is mens besonder dankbaar en trots.

 

Dit is wat onlangs gebeur het toe prof Jan Smit, bestuurder van die NWU se Wetenskapsentrum op die Potchefstroomkampus, 'n NWTF-South32-toekenning vir sy uitmuntende werk ontvang het. (Lees die volledige storie elders in Eish!)

 

Die NWTF-South32-Toekennings is die grootste, mees omvattende en mees gesogte nasionale toekennings van hul soort. Hulle vereer en vier buitengewone bydraes aan wetenskap, ingenieurswese, tegnologie en innovasie.

 

Die organiseerders het opgemerk dat Jan se huidige werk op innoverende wyses bydra tot die ontwikkeling van mense se potensiaal om sodoende skoliere en die publiek se kennis, vaardighede en houdings met betrekking tot wetenskap, ingenieurswese en tegnologie te verbeter. Die Wetenskapsentrum is 'n groot trekpleister vir die massas studente wat dit elke jaar van regoor die land besoek.

 

Daar moet wel bygevoeg word dat Jan so toegewyd is dat hy klaarblyklik nie, op sy ouderdom van 70 plus, 'n behoefte daaraan het om die pas effe te laat skiet nie; hy word gereeld gesien waar hy tussen punt A en B op sy tweewiel-, battery-aangedrewe Segway verbysnel.

 

Onderwyl ons poog om uit te blink in innoverende leer en onderrig en baanbrekersnavorsing (en sodoende die gemeenskap deur kennis te dien), moet ons verbintenis tot die bereiking van maatskaplike geregtigheid nie agterweë gelaat word nie.

 

Dit is iets wat prof Annamarie Kruger al vir baie jare demonstreer. Sy het al in die verlede verskeie toekennings ontvang, waarvan die Visekanselierstoekenning vir Uitnemendheid in Gemeenskapsbetrokkenheid vir die opheffing van gemeenskappe volgens die benadering van 'n volhoubare lewensbestaan, die mees onlangse een is. Dít het sy deur haar betrokkenheid by WINLab, 'n gemeenskapsbetrokkenheidsplatform en een van 11 LivingLabs in Suid-Afrika, gedoen.

 

Annamarie is die voormalige direkteur van AUTHeR (die Afrika-eenheid vir Transdissiplinêre Gesondheidsnavorsing). Hierdie entiteit is gerat vir die ontwikkeling van nuwe navorsingsentiteite – tot die punt waar hulle as volwaardige, onafhanklike entiteite gevestig kan word. AUTHeR het byvoorbeeld, onder leiding van Annamarie, tussen 2005 en 2014 ses newenavorsingsentiteite gelewer. Dit wys dat ware leiers ander bemagtig om onafhanklik te kan uitstyg.

 

Terence Dlamini is 'n student wat ons verbintenis tot uitnemendheid bevestig het. Hy is 'n geskiedenisstudent op die Mafikengkampus en het onlangs die Johan Bergh Historia-toekenning vir beste finalejaarstudent in die 2015 akademiese jaar, ontvang. Die prys is deur die Historiese Genootskap van Suid-Afrika (HGSA) toegeken.

 

Hoewel ek slegs 'n paar individue uitgesonder het, kan elke student en personeellid tot hierdie kultuur van uitnemendheid en sorgsaamheid bydra. Dit is wat ons strategie vereis en ons het kampvegters op elke vlak van die NWU en in alles wat ons doen, nodig. Ek nooi elkeen van julle uit om jul unieke vaardighede en positiewe houding te gebruik om ʼn kampvegter vir uitnemendheid en sorgsaamheid te wees.