Bestuurder van NWU-wetenskapsentrum ontvang

“Wetenskap-Oscar”

 

Die bestuurder van die Wetenskapsentrum op die Potchefstroomkampus het ʼn NSTF-South32-toekenning, ook bekend as ʼn “Wetenskap-Oscar”, ontvang ter erkenning van die uitstekende werk wat hy doen.

BEWEEG AF

>

>

Prof Jan Smit is op 30 Junie vereer tydens ʼn galadinee by Emperors Palace in die kategorie “Kommunikasie vir uitreik en bewusmaking”. Jan was een van agt NWU-finaliste in die Nasionale Wetenskap- en Tegnologieforum (NWTF) se prestige-wetenskaptoekennings. (Klik op die helderkleurige ikone regs om te sien wie die NWU se ander benoemdes was.)

 

ʼn Groot eer

 

Jan sê dit was ʼn groot eer om saam met die grootste wetenskaplikes in Suid-Afrika erken te word. “Dit is vir my ʼn groot voorreg. Ek voel soos ʼn dwerg wat oor die skouers van reuse loer.”

 

Hy was aanvanklik huiwerig om homself beskikbaar te stel vir die toekennings. “Ek glo mens moet jou werk altyd tot die beste van jou vermoë probeer doen, nie om erkenning te kry nie maar omdat jy daarin glo. Ek was aangenaam verras. Die toekenning is ʼn goeie motivering om voort te gaan om innoverende werk van hoë gehalte te doen.”

 

Jan sê hy is dankbaar teenoor al die wetenskaplikes en studente wat tot sy loopbaan bygedra het. Hulle sluit in groot wetenskaplikes soos prof Pieter Stoker en voormalige studente soos prof Dan Kgwadi, visekanselier van die NWU.

 

Sy huidige werk dra by tot die opbou van mensekapitaal op innoverende maniere en die verbetering van die kennis, vaardighede en houdings van leerders en die publiek op die belangrike vakgebiede van wetenskap en ingenieurstegnologie. Die eindproduk van sy visie is goed gekwalifiseerde ingenieurs, wetenskaplikes en tegnoloë.

 

Mees gesogte toekennings

 

Die NSTF-South32-toekennings is die grootste, mees omvattende en mees gesogte nasionale toekennings van hul soort, en vier uitstaande bydraes tot wetenskap, ingenieurswese, tegnologie en innovasie.

 

Die beskermvrou van hierdie unieke toekennings is die Minister van Wetenskap en Tegnologie, me Naledi Pandor.

 

Die tema vir vanjaar was “Peulvrugte”. Dit verwys na die 2016 Internasionale Jaar van Peulvrugte soos verklaar deur die Verenigde Nasies. Die tema is vir bewusmaking van gesondheid, voeding en omgewingsvolhoubaarheid ter versekering van voedselsekuriteit en nuwe innovasies.