Rou oor ʼn geliefde
In ons voortgaande reeks artikels vir Eish! kyk ons na die verskillende kulturele praktyke en hoe dit alles bydra tot die mooi en ryk tapisserie van die lewe in Suid-Afrika. In hierdie uitgawe kyk ons hoe mense in die Basothokultuur oor die dood van hul geliefdes rou.
Die dood van ʼn geliefde is ʼn verpletterende gebeurtenis wat mens nie net met ʼn oorweldigende gevoel van verlies agterlaat nie, maar ook met die begeerte om op ʼn manier hulde te bring aan die oorledene. In die Basothokultuur word daar van ʼn weduwee verwag om vir ʼn tydperk van tussen drie en 12 maande lank oor ʼn geliefde man te rou.
Evelyn Sebidi, voormalige ontvangsdame by die Institusionele Kantoor en nou nuut aangestelde senior administratiewe assistent by Farmasie op die Potchefstroomkampus, gesels met ons oor die kulturele praktyke ná die afsterwe van haar man, Dan.
Personeel en besoekers ken Evelyn Sebidi as die vriendelike ontvangsdame by die Institusionele Kantoor. Deesdae is sy ʼn senior administratiewe assistent by Farmasie op die Potchefstroomkampus. Sy het hierdie rok vir ses maande lank gedra as deel van die routydperk ná die dood van haar man, Dan. “Ek sal hom mis, hy sal altyd deel van my wees.”
KLIK OM AF TE BEWEEG
Ses maande van rou
Dan Sebidi is op 14 Oktober 2015 ná ʼn lang siekbed oorlede. “Die begrafnis was op 25 Oktober en die volgende dag het ek begin om my roudrag te dra soos my man se familie dit voorgeskryf het.”
Evelyn sê daar is baie streng reëls in haar kultuur wat noukeurig gevolg moet word om hulde te bring aan die nagedagtenis van die oorledene.
Sy kon kies tussen ʼn drie, ses of 12 maande lange routydperk. “Ek het gevoel ses maande sou beter wees as net drie maande. Twaalf maande sou te lank wees, want ek moet werk, en rou in die Basothokultuur beteken klere wat jy elke dag moet dra vir die hele routydperk.”
Rooi of swart klere toon respek
Die gewone kleur vir rouklere is swart, maar omdat Evelyn in ʼn professionele omgewing werk en daagliks met die publiek te make kry, het haar skoonfamilie haar toegelaat om ʼn rooi rok te dra.
“Die dra van die rok simboliseer dat ek die wette van my kultuur en my skoonfamilie se reëls gehoorsaam het. Dit wys ook dat ek verbind is tot my huwelik en dat ek my man respekteer.”
Evelyn het die rok gedurende die hele routydperk gedra. Toe die ses maande lange tydperk in Mei vanjaar verby was, het sy en haar familie die rok seremonieel verbrand as deel van ʼn reinigingsritueel waarmee haar broer, David Dikupe, die leiding geneem het.
“Die rokverbranding lui die begin van ʼn nuwe lewe in, hoewel jy nog steeds jou man se nagedagtenis eer en altyd deel van sy familie sal wees,” sê sy.
Streng reëls oor routydperk
Evelyn sê behalwe vir die rok wat sy moes dra as ʼn simbool van haar toewyding aan Dan, was daar ook ander streng reëls wat sy gedurende die routydperk moes nakom.
Dit sluit in dat sy en haar kinders nie hulle huis ná 17:30 in die middag mag verlaat nie en dat al die ligte in die huis vir die volle ses maande elke nag deurnag moet brand. “Die ligte word aangeskakel vir ons voorvaders sodat dit helder verlig kan wees as hulle die huis besoek.”
Sy sê sy volg die reëls baie nougeset, omdat haar kultuur vir haar baie belangrik is. “Dit demonstreer die respek vir wie mens is en waar jy vandaan kom.”
Eish! nooi personeel uit om ons te vertel van hul kulturele gebruike en praktyke. Stuur julle bydraes na ons Eish!-joernalis, Willie du Plessis, by willie.duplessis@nwu.ac.za.
GAAN TERUG NA DIE BEGIN