REDAKSIONEEL

Leef kreatief

Beweeg af

Beste kollegas,

 

Variety is the spice of life. So lui die Engelse spreekwoord, maar ek dink kreatiwiteit is net so belangrik as speserye om die alledaagse so bietjie woema te gee.

 

Hierdie uitgawe van Eish! bevat 'n hele paar artikels wat vertel hoe kreatiwiteit tot ons kollegas se prestasies gelei het. Kyk nou maar na die artikel oor die nuwe NWU YouTube-kanaal, NWUtv. Die gemeenskapsprojekte wat op hierdie kanaal uitgesaai word, is uit kreatiewe denke gebore, en dit het nog 'n goeie skeut kreatiwiteit gekos om hierdie goeienuusstories in die vorm van interessante video's te vertel.

 

Net so spreek die Fakulteit Opvoedingswetenskappe op die Potchefstroomkampus se olifantprojek en die prestasies van die kommersialisasiekenner, FR Bezuidenhout, van kreatiewe denke en dade. Francois Pretorius, kunstenaar en hoof van die Kreatiwiteitsentrum op hierdie kampus, is nog 'n voorbeeld van kreatiwiteit in aksie.

 

Laaste, maar beslis nie die minste nie, is daar die Eish! se ontwerp- en uitlegspan by Graphikos – elkeen van hulle ʼn ware kreatiwiteitskampioen.

 

Die geheim is waarskynlik om kreatief te leef; om deur kreatiewe lense na die wêreld te kyk; om die uitdagings en oplossings in plaas van die struikelblokke en probleme te sien. Wees dus kreatief in alle fasette van die lewe, jou verhoudings inkluis – moet nooit ʼn persoon of verhouding as vanselfsprekend aanvaar nie. Kortom: kies opwinding in plaas van die alledaagse en ontdek jou innerlike muse.

 

My innerlike muse? Is jy ernstig?

 

Jip. Ons almal het een – en sommige van ons het meer as een. In 'n onlangse e-posboodskap van NWU Wellness4U verwys die skrywer na verskillende maniere waarop mens jou kreatiwiteit kan ontdek en ontwikkel. Indien jy nog nie hierdie artikel gelees het nie, kan jy dit nou doen deur hier te kliek.

 

Laat ons dus kreatiwiteit met ope arms verwelkom en oral waar ons kan, as spesery byroer.

 

Lekker lees.

 

>

>