NUUs

Kekeletso Tsiloane was onlangs tweede in die SAB Stigting se jaarlikse maatskaplike innovasietoekennings.

 

Kyk hoe hulle skitter

 

Sedert sy ontstaan in 2013 het die EWP-program talle vroue-entrepreneurs bemagtig om baanbrekerswerk op verskeie gebiede te doen.

 

Dit sluit in die ontwikkeling van selfoontoepassings, spyseniering, eiendomsontwikkeling, mode- en binnenshuise ontwerp, asook instandhoudingsbestuur.

 

Ander het unieke produkte en dienste ontwikkel en bekendgestel om vir verskillende nismarkte voorsiening te maak.

 

Voorbeelde hiervan sluit in die verwerking van plastieksakke in ontwerpermatte vir die toerismebedryf, ’n ekovriendelike mobiele motorwasdiens vir groot besighede, en ’n taksidermiediens wat nommerpas vir die wild- en jagbedryf is.

 

Verskeie van hierdie entrepreneurs verskaf nou werk aan ander vroue in hul gemeenskappe.

 

Hulle neem selfs jongmense as interns in diens, maak hulle touwys en leer hulle meer oor die krag van entrepreneurskap.

 

Entrepreneurs bou baksteen vir baksteen ’n beter toekoms

Indien Suid-Afrika die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) se teiken wil bereik om teen 2030 altesaam 11 miljoen poste te skep, moet entrepreneurskap – veral onder vroue – aangemoedig word. Ten opsigte hiervan neem die NWU leiding om entrepreneurskap deur middel van sy jaarlikse Ondernemende Vroue-program (EWP) te bevorder.

Dit is hierdie jaar die agtste keer dat hierdie program met sy groot impak deur die NWU se Ondernemingsontwikkelingsentrum (bhive EDC) aangebied en vroue-entrepreneurs – ook bekend as fempreneurs – regoor die universiteit se geografiese voetspoor bemagtig word.

 

Een van die program se alumna, Kekeletso Tsiloane, het onlangs die nasionale hoofopskrifte gehaal toe sy tweede was in die SAB Stigting se jaarlikse maatskaplike innovasietoekennings.

 

Bou ’n skoner toekoms

 

Haar maatskappy, Ramtsilo Manufacturing and Construction, het ’n kontantinspuiting van R900 000 vir hulle PlastiBrick-uitvinding gekry.

 

PlastiBrick gebruik herwonne plastiek – wat van stortingsterreine, huishoudings en vullissmouse kom – om pleister- en maksistene te vervaardig wat sterk, duursaam, brandbestand en omgewingsvriendelik is. Geen water word in die vervaardiging van die stene gebruik nie, dus spaar hulle boonop water.

 

Kekeletso, wat van Sasolburg in die Vrystaat kom, het aan die 2017 EWP deelgeneem. Saam met haar suster, Kedibone, baan hulle nou die weg vir jong fempreneurs binne ’n tradisioneel mansgeoriënteerde werksomgewing.

 

Bou ’n netwerk

 

Die twee susters, wat hulle uitvinding met R5 000 begin het, het aan so veel as moontlik ontwikkelingskompetisies deelgeneem om hulle in staat te stel om hulle netwerk van enersdenkende entrepreneurs en ondernemingsbemagtigers uit te brei.

 

Hulle plan het vrugte afgewerp, aangesien hulle daarin geslaag het om befondsing van die F2019 Standard Bank Top Women se voorleggingskonferensie, die Engen Pitch and Polish-kompetisie, en nou ook die SAB Stigting se maatskaplike innovasietoekennings te kry.

 

Meer oor die EWP-program

 

Die program bemagtig beginner-entrepreneurs om nie slegs hul besigheidsdrome waar te maak nie, maar ook om aktief tot die plaaslike en nasionale ekonomie by te dra.

 

Volgens EWP-koördineerder Leonie Greyling lê die sukses van die program daarin dat dit sake-ondersteuningsdienste aan vroue lewer.

 

’n Omvattende kurrikulum help hulle om besigheidsidees en markte te identifiseer, ’n goeie besigheidsmodel te ontwikkel, en uiteindelik hulle eie beginnerondernemings suksesvol te inisieer.

 

Tydens die proses word vroue deel van ’n dinamiese portuurnetwerk, en ontvang hulle ook mentorskap van ervare entrepreneurs en NWU-akademici.

 

Vir meer inligting, stuur ’n e-pos aan incubation@nwu.ac.za, of kontak die bhive EDC by 016 910 3393.

 

 

 

DIE NWU & U

 

Stuur gerus vir ons julle kommentaar, voorstelle en enige ander bydraes wat julle wil lewer, byvoorbeeld foto's of nuusbrokkies.

 

Ons waardeer julle opinies en insette – die NWU & U behoort immers aan ons almal.

Navigasie

>

<

VOLGENDE ARTIKEL

VORIGE ARTIKEL

KLANK

video

MEER INLIGTING

KLIK

DEEL

Kekeletso en haar suster, Kedibone, gebruik herwonne plastiek om die bakstene te vervaardig – en so baat die omgewing sommer ook.

NWU & U  |

NWU & U  |

 

INHOUD

NWU & U