SELF

 DIRECTION

 weet watter snare om te pluk

Die naam spreek vanself: Self Direction. Dit was prof Christo van der Westhuizen se idee om die musiekgroep te vernoem na die navorsingsfokusarea Selfgerigte Leer, waarby al vier die orkeslede betrokke is. Dit spreek ook van hul toewyding om te doen wat hulle die meeste geniet.

Lede van Self Direction is van links Aimee le Roux, dr Roxanne Bailey en prof Christo van der Westhuizen. Gareth Bailey (heel regs) speel soms drom vir Self Direction. Op daardie stadium was dr Dorothy Laubscher nog nie ’n lid van die musiekgroep nie.

 

Geniet ’n oorspronklike liedjie genaamd “Worst case scenario” deur die groep Self Direction. Agter is Gareth Bailey, wat soms die dromme speel. Dr Dorothy Laubscher het by die groep aangesluit nadat hierdie video gemaak is.


Hoe mens noot vir noot sukses behaal

Christo en Aimee het ’n bietjie teenstrydige raad vir aspirerende musici wat hoop om ’n musiekgroep op die been te bring.

“Ek wou nog altyd deel van ’n musiekgroep wees, maar dit het nog nooit uitgewerk nie. In die musiekomgewing het die frase ‘kom ons begin ’n orkes’ só algemeen geword dat dit amper is soos om vir ’n ou hoërskoolmaat te sê ‘ons moet een of ander tyd gaan koffie drink’.

“Wat ek uit ons musiekgroep geleer het, is dat jy dit nie kan forseer nie. As jy mense kry wat van dieselfde musiek hou en dieselfde drome as jy het, sal dit alles reg uitwerk. Hou aan soek na hierdie mense en wanneer jy hulle vind, koester hulle en maak dit ʼn prioriteit,” sê Aimee.

 “Moenie met ’n musiekgroep begin nie … dis heeltemal te veel pret!” waarsku Christo.

 

Christo, Aimee le Roux, dr Dorothy Laubscher en dr Roxanne Bailey is die lede van die talentvolle groep wat hul passies en benaderings gebruik en dit in ’n goedgeoliede musiekmaakeenheid omskakel.

 

Op ʼn persoonliker noot

 

“Ek is die jongste van die groep en gewoonlik die een wat ’n vals noot speel of wie se ritme nie mooi by is nie,” sê die hoofsanger, Aimee, wat ook die ukelele en die klavier bespeel.

 

“Ek geniet egter die musiek verskriklik en ons is baie energiek wanneer ons speel. Ek het nog nooit soveel goeie musiek gehoor soos hierdie jaar nie, en dit is danksy die invloed van die ander lede van die musiekgroep.”

 

“Ek dink ek dra ’n bietjie wysheid, asook ’n kritiese oor en ’n bietjie kalmte vir hierdie jongelinge by,” sê Christo, wat die kitaar se snare pluk.

 

Dorothy, wat die sleutelbord bespeel, deel ’n paar van Christo se eienskappe: “Ek is ’n baie kalm persoon en ek bring soms bietjie rustigheid na die orkes. Ek dink my bydrae is ’n geoefende oor en ’n gevoel vir musiek.”

 

Dan is daar die selferkende “streng” kitaar- en baskitaarspeler, Roxanne: “Ek dink ek bring ’n bietjie strengheid na die orkes. Daar word trouens dikwels vir my gesê ek moet bietjie ontspan!”

 

Hulle deel hul musiek

 

Die groep het hierdie jaar tot stand gekom nadat hulle besluit het om in die personeelkategorie aan die Pukki Talentfees deel te neem. Hulle het in Maart begin oefen en toe hulle agterkom dat daar glad nie in 2019 so ’n kategorie is nie, het die groep dit so geniet om saam te speel, dat hulle besluit het om daarmee aan te hou.

 

Hulle oefen elke Maandag en speel elke twee maande by die Snowflake-mark in Potchefstroom, en kan ook by talle ander geleenthede soos huiskonserte gehoor word.

 

Hulle gunstelingmusiek is folk-rock, en hulle speel graag musiek van Amy Macdonald, Brandi Carlile, Tracy Chapman, Laurika Rauch, Melktert Kommissie, The Cranberries, Fleetwood Mac, Passengers, Edith Piaf en Adele.

 

Gelukkig lyk dit vir die musiekliefhebbers of Self Direction die regte rigting ingeslaan het, en elke keer die hoë note perfek haal.

Dr Dorothy Laubscher (bo) het onlangs by Self Direction aangesluit. “Dorothy is ’n ware aanwins vir die groep en haar teenwoordigheid maak ’n groot verskil,” sê dr Roxanne Baily, nog ’n lid van die groep.