>

LEES MEER

>

FOKUS

OP

Dr Sibo Sowazi is die NWU se nuwe direkteur vir navorsingsondersteuning.

V: Wat is die doel van ’n navorsingsleerstoel?

A: Die Navorsingsleerstoel-inisiatief is ’n nasionale program wat die Departement van Wetenskap en Tegnologie (DWT) en die Nasionale Navorsingstigting (NNS) geïnisieer het om Suid-Afrikaanse navorsingsuitnemendheid in ons eie land en ook internasionaal te bevorder.

 

Die fokus is meestal op kwessies van nasionale belang en hoe hierdie kwessies hanteer word om die lewens van Suid-Afrikaners te verbeter. Die doel van die program is ook om Suid-Afrika te help om sy internasionale mededingendheid in navorsing te verhoog.

 

Nog ’n doelwit is om die navorsing- en innovasiekapasiteit van die openbare universiteite te verbeter om nagraadse studente van ’n hoë gehalte en navorsing- en innovasieuitsette te produseer.

 

V: Wie sal gewoonlik as die leier van ’n navorsingsleerstoel aangestel word?

A: Die leiers van navorsingsleerstoele is uitstekende, gesoute en gevestigde navorsers van formaat op die gebied van hul kundigheid. Die meeste van hulle is NNS-gegradeerde navorsers, wat beteken dat hulle leiers op hulle gebied is.

 

Daar is twee vlakke van navorsingsleerstoele. Die leiers van vlak 1-leerstoele is gevestigde navorsers wat internasionaal vir hul navorsingsbydraes erken word. Hulle het wyd gepubliseer en lewer uitnemende nagraadse studente.

 

Die leiers van vlak 2-navorsingsleerstoele is gevestigde navorsers met die potensiaal om in die volgende vyf tot 10 jaar internasionale erkenning vir hul navorsingsbydraes te ontvang.

 

V: Waarvoor is navorsingsleerstoele verantwoordelik?

A: Personeel wat by ’n navorsingsleerstoel betrokke is, is hoofsaaklik vir navorsing en nagraadse opleiding verantwoordelik. Hulle navorsing handel oor kwessies wat die regering as van nasionale belang geïdentifiseer het en hulle probeer aktief om oplossings vir die uitdagings op hulle bepaalde gebiede te vind.

 

Hulle adviseer ook die regering oor beleide en relevante kwessies.

 

V: Hoeveel navorsingsleerstoele het die NWU?

A: Die NWU het sewe Suid-Afrikaanse Navorsingsleerstoel-inisiatief-leerstoele (SARChI-leerstoele) en drie bedryfsgebaseerde navorsingsleerstoele.

 

V: Hoe word die leiers van navorsingsleerstoele aangestel?

A: Poste vir leerstoelleiers word geadverteer. Die universiteit identifiseer dan kandidate met goeie akademiese profiele en lê voorstelle aan die NNS voor. Die kandidate ondergaan ’n streng beoordelingsproses wat nasionale en internasionale geloofwaardigheid het.

 

V: Dien hulle vir ’n vaste tydperk as leiers van navorsingsleerstoele?

A: Leiers word vir vyf jaar aangestel en hierdie tydperk kan twee keer hernu word. Hulle word gedurende hierdie 15-jaar-siklus deur die DWT/NNS befonds, waarna die universiteit bykomende fondse moet kry sodat die navorsingsleerstoel sy werk kan voortsit.

 

V: Werk die leiers van navorsingsleerstoele saam met navorsers van ander universiteite, of is hulle primêr vir hul universiteit-spesifieke navorsing verantwoordelik?

A: Een van die vereistes is dat hulle met ander moet saamwerk. Hulle moet hulle kennis met ander hoëronderwysinstellings deel, en dit ook deel deur dit in gemeenskappe te gebruik.

 

V: Is daar enige prestige om as navorsingsleerstoelleier aangestel te word?

A: Dit is ’n baie groot eer. Hulle is deel van ’n uitgesoekte groep hoog aangeskrewe en hoogs gerespekteerde navorsers. Dit is erkenning van jou eweknieë vir bydraes wat ’n betekenisvolle  verskil maak met die vind van oplossings vir werklike probleme.

 

Die NWU is trots op al ons navorsingsleerstoele en die personeel wat daarby betrokke is, vir die baanbrekerswerk wat hulle doen.

NAVORSINGSLEERSTOELE

help werklike probleme oplos

Volgens die NWU se interne suksesmodel moet die universiteit se navorsings- en innovasiepogings ’n waarneembare internasionale profiel en impak hê.

 

’n Verwante prioriteit is om oplossings vir werklike probleme in ons land en in die wêreld te vind, en dis hier waar ons navorsingsleerstoele ʼn rol speel om hierdie ideaal te verwesenlik. Eish! het met dr Sibo Sowazi, die nuwe direkteur vir navorsingsondersteuning, gepraat oor navorsingsleerstoele en wat dit behels.

 

 

 

Die NWU se navorsingsleerstoele en hul leiers:

 

  • DWT/NNS-Navorsingsleerstoel in Astrofisika en Ruimtewetenskap (SARChI) – prof Markus Bottcher, Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe
  • DWT/NNS-Navorsingsleerstoel in Steenkoolnavorsing (SARChI) – prof John Bunt, Fakulteit Ingenieurswese
  • DWT/NNS-Navorsingsleerstoel in Biobrandstowwe en Ander Skoon Alternatiewe Brandstowwe (SARChI) – prof Sanette Marx, Fakulteit Ingenieurswese
  • DWT/NNS-Navorsingsleerstoel in Kerningenieurswese (SARChI) – prof Jat du Toit, Fakulteit Ingenieurswese
  • DWT/NNS-Navorsingsleerstoel in die Vroeë Opsporing en Voorkoming van Kardiovaskulêre Siekte in Afrika – prof Alta Schutte, Fakulteit Gesondheidswetenskappe
  • DDWT/NNS-SA-NAM- Bilaterale Navorsingsleerstoel in Astronomie en Astrofisika (SARChI) – prof S Wagner (Namibië), Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe
  • SOOO vir Onderrig, Opleiding en Ontwikkeling-Navorsingsleerstoel in Vroeë Kinderopvoeding – prof Rosemarie Wildsmith-Cromarty, Fakulteit Opvoedkunde
  • ESKOM EPPEI-Spesialisasiesentrum vir Emissiebeheer – prof Hein Neomagus en prof Stuart Piketh, Fakulteit Ingenieurswese
  • Wêreldhandelsorganisasie-leerstoel (WHO) – prof Wilma Viviers, Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe.
  • DWT/NNS-Navoringsleerstoel vir die volhoubaarheid van stede, die reg en die omgewing (Engels: CLES) (SARChI) - prof Anél du Plessis, Fakulteit Regte