>

>

Boodskap van die

ViSEKANSELIER

BESTE KOLLEGAS,

Teen die tyd dat julle hierdie lees, is die Paastyd agter die rug en het die seisoen begin verander. Dit is weer eens tyd vir assesserings, wat drie weke later deur die eerste semester se eksamen gevolg word. Ons bemarkers is terselfdertyd besig om skole te besoek, en reël opedae om toekomstige studente vir die 2019-inname te werf.

 

Dit is ’n bewys van die dinamiek van die NWU: altyd vooruitskouend, met die beplanning en visualisering van toekomstige sukses. In hierdie uitgawe van Eish! lees julle oor die moontlikheid om staatsondersteuning vir die stigting van ’n nuwe mediese skool te kry. Julle kan ook oor al die opknappings en bouprojekte op ons kampusse lees.

 

Ons fokus by die NWU bly egter op ons mense en ons begeerte om ’n etiek van omgee aan die NWU te bevorder. Ons personeel en studente verteenwoordig die kern van ons identiteit en ons wil hulle almal laat welkom voel, en laat voel dat hulle op al ons kampusse betrokke en ingesluit is. Julle sal dus soos gewoonlik oor ons buitengewone studente en personeel lees.

 

Gedurende die afgelope maande het ons ’n uitdaging ervaar toe eerstejaarstudente op ons toegesak het wat nie seker was oor die implikasies van die nuwe befondsingsreëlings wat laat verlede jaar aangekondig is nie. NSFAS het as gevolg daarvan ook sy eie uitdagings beleef, en dit het na ons toe oorgespoel. Ons moes talle kitsbesluite oor registrasie neem. Ek salueer die personeel op ons kampusse omdat hulle dit op ’n deernisvolle en verantwoordelike manier hanteer het.

 

Ons Taalbeleid en Taalplan-taakspan kry steeds insette oor die hersiening van ons nuwe taalbeleid en -plan.

 

Ek word dikwels oor my persoonlike mening oor hierdie saak uitgevra. Ons beleid en plan moet voldoen aan die vereistes van die Taalbeleid vir Hoër Onderwys, wat ’n funksioneel meertalige omgewing voorskryf, asook deur ons 2017-statuut. Volgens ons Statuut moet die taalbeleid van die universiteit “buigsaam en funksioneel wees en die taalwanbalanse van die verlede herstel en meertaligheid, toegang, integrasie en ’n gevoel van behoort bevorder”.

 

As ons ons hierdeur laat lei, sal ons die verdelende en polariserende benaderings vermy wat afbreuk doen aan die behoefte om onderwystransformasie en die integrasie van groepe deur die gebruik van verskillende tale te bereik.