>

>

REDAKSIONEEL

ONS KOOK!

KLIK OM MEER TE LEES

Die mense by die NWU kook – letterlik en figuurlik. Vir die bewys hiervan hoef jy nie verder as hierdie uitgawe van Eish! te kyk nie.

 

Eerstens is Katlego Ramagaga, die bestuurder van die radiostasie op ons kampus in Mahikeng, ’n uitstekende kok – trouens só goed dat sy in ’n kookkompetisie op televisie verskyn het. Lees meer oor haar deelname aan die TV-program Come Dine with Me South Africa in die artikel Katlego verruil oorfone vir ’n sjefhoed.

 

Benewens Katlego is daar talle ander kollegas van wie ons – in ’n meer figuurlike sin – kan sê: Sjoe, julle kook!

 

Kyk maar na daardie personeellede wat onverpoos werk om seker te maak dat die NWU se droom om ’n mediese skool gevestig te kry, waar word. (Vind uit wat prof Awie Kotzé, die uitvoerende dekaan van die Fakulteit Gesondheidswetenskappe, te sê het oor die impak wat só ’n skool op die universiteit sal hê.)

 

Verder is daar ook diegene wat saam met kundiges van ander Suid-Afrikaanse hoëronderwysinstellings ’n werkswinkel aangebied het waar hulle saam aan ’n nasionale raamwerk vir twee kwalifikasies in versorging en opvoeding in die vroeë kinderjare gewerk het.

 

Nog mense wat op hulle eie manier “kook” is ons buitengewone studente. In hierdie Eish! kan julle lees van Jestus Fouché, ’n eerstejaarstudent wat talle struikelblokke oorkom het om akademiese sukses te behaal, en aan die einde van verlede jaar as Gauteng se topleerder met spesiale onderwysbehoeftes aangewys is.

 

Met die herfsblare wat rondom ons val en die winter wat op pad is, moet ons nie ons stoom verloor nie. Hou aan “kook” sodat ons van hierdie akademiese jaar ’n nóg groter sukses kan maak.

 

Laat die potte prut!